Mense delf diep in myne om diamante te kry.
Ons kry hulle in briefies, somtyds stap hulle by die kantoor in, ander kere ontdek ons hulle op verstommende maniere.
Vanjaar het www.mobserver.co.za se Ouboet, die Middelburg Observer, ’n rubriek begin met die titel Young Voice/Jong Stem.
Die jong stemme stel nie teleur nie.
Hulle skryf aktueel, vermy rassisme en politiek, raak hartsnare aan.
Woensdag stuur ’n jong stem sy rubriek aan wat met die wêreld gedeel moet word.
Sy naam is Lebo Ndlovu, ’n matrikulant by Hoërskool Middelburg.
Hy skryf:
“Kom ons bind mekaar met woorde, met die brug en die gom van ons mooi tale, ook die brug en gom van Afrikaans.
Kom ons maak Afrikaans ’n taal van versoening, van vrede en van vryheid” – Mathews Phosa
Hierdie woorde begroet my elke dag in die Afrikaanse klas – my juffrou het dit kunstig voor op die muur geverf. Na ’n jaar het Mathews Phosa se woorde soos mos op my begin groei. Dit herinner my aan Laurika Rauch se liedjie waarin sy sing van haar hartsmense wat soos ’n moskombersie op haar groei. In my geval, is dit Afrikaans wat onder my vel ingekruip het.
My naam is Lebo Ndlovu. As negejarige seuntjie het ek ’n tuiste gevind in Kosmos-kinderhuis in Kriel. Ek was nie wees nie, maar my ma was ’n enkelouer en kon weens haar siekte nie meer vir my sorg nie. Dit is hier by die kinderhuis waar my pad gekruis het met Kiewiet – my boesemvriend wat my geleer het om Afrikaans te praat en om my hart vir die Here te gee.
As tjokkertjie het ek met Kiewiet se Afrikaanse Bybel gesit en hy het weer uit my Zoeloe-Bybel, wat ek by die kinderhuis gekry het, probeer lees. Saam met Kiewiet het ek vir die eerste keer geleer om oopbek vir die lewe te lag – iets wat ek tot op daardie stadium nie kon doen nie, weens my ongunstige huislike omstandighede.
In 2011 word ek ’n Middelburger toe ek deel word van Care Village se kinderhuisfamilie. Tot nou toe het ek gedink dat my ma my weggegooi het. Maar soos ek ouer geword het, het ek na rede begin soek. Ek het besef dat ek my ma nooit sien lag het nie en al wat ek van haar kan onthou is die seer in haar oë en die kneusplekke op haar lyf.
Ek het vrede gevind in die wete dat alles met ’n rede gebeur. By my ma sou ek nooit in my geloof in Jesus Christus kon groei nie. Nou het die lewe vir my die geleentheid gegee om my hart vir die Here te gee. Ek lag altyd, want ek glo dat God in my leef en dat Hy elke probleem saam met my sal hanteer.
My lewe in die kinderhuis het my geleer dat ek oor niks bekommerd hoef te wees nie en met ’n dankbare hart moet bid vir alles wat ek het. Nog ’n kosbare les wat ek hier geleer het, is dat geld niks is nie, maar dat tyd kosbaar is.
As ’n matrikulant van Hoërskool Middelburg is my boodskap dat Afrikaans onder my vel ingekruip het, want dit het my na God toe gebring. Mathews Phosa se woorde waarna ek elke dag in die Afrikaanse klas kyk, het volle betekenis in my lewe gekry. Hier by Hoërskool Middelburg is dit ’n taal van versoening, waar ons leerders oor kultuurgrense heen mekaar respekteer.
In my persoonlike lewe het dit vrede gebring oor my verlede en ek het die vermoë om ’n glimlag op ander mense se gesigte te los, omdat ek werklik vry is.
Refentse som my gevoel oor Afrikaans op met die woorde: “Ek is ’n groot aanhanger van Afrikaans, want daarsonder weet ek nie wie ek is nie.”
Lees ook:
Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk
Annica van Staden slagoffers verloor duisende
VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
