News

Beserkte bye steek honde dood

’n Swerm beserkte bye het drie honde op ’n plot doodgesteek en dae later die familie onder “huisarres” gehou weens hul aggressie.

Mnr. Shorne Hill se drie honde, twee rottweilers en ’n Jack Russell, is op hul plot in die Doornkop omgewing doodgesteek.

Die honde, Shadow, Turbo en Jonty, het reeds gevrek teen die tyd wat hulle by die huis van die werk af gekom het. ’n Paar van sy wedvlugduiwe is ook gesteek, maar hulle het oorleef.
Die duiwehokke is reg onder die boom waar die bye nes gemaak het.

Teen Sondag (gister) was die bye só aggressief dat die familie nie by die agterdeur kon uit nie.
“Ons is onder huisarres in ons eie huis gehou. Ons kon nie uitkom nie!” vertel mnr. Hill.

Mnr. Hill sê dat hy op ’n stadium buitebande onder die boom gebrand het, met die hoop dat die bye sal trek, maar dit het geen verskil gemaak nie.
Byeboer Martin Nel het Sondagaand die byekorf gaan uithaal.

Mnr. Nel sê hy moes met ’n Eskomleer in die geelhoutboom, wat sowat agt meter hoog was, die byekorf gaan uithaal.

Die oomblik toe hy by die korf kom, het hy besef daar is indringerbye, wat hy die “swartby”, beter bekend as die “Kaapse Katensis”-by, ook in die korf is en hy moes die bye met gif doodmaak.

Mnr. Nel sê dié indringerbye gaan saam met ander bye by korwe in, waar hulle as parasiete saam met die bye in die korf leef. Hulle gaan sit langs die koningin en kry haar reuk, wat beteken dat die ander bye vir hulle kos gee.

Hierdie bye is selfbevrugtend en lê oral in die nes hul eie eiers, wat veroorsaak dat die oorspronklike bye nie meer kos in die nes het nie en dié bye dan uiters aggressief raak en begin steek.
Mnr. Nel sê hierdie parasietbye moet van kant gemaak word en moes hy ongelukkig die hele nes uitwis om die swartby uit te roei.

Hy was die afgelope paar weke baie bedrywig in en om Middelburg om byeneste te verwyder.

•’n Paar weke gelede is drie honde doodgesteek in Buitekantstraat nadat ’n buurman, wat byekorwe in sy erf gehad het, se bye beserk geraak het.

•Verlede Woensdag het me. Alecia dos Reis op ’n WhatsApp noodgroep vir hulp gevra nadat bye op haar ma, Riana Barnard, toegesak het, toe mense in hul rigting gehardloop het met ’n swerm bye agterna in Marmerstraat (Bloekomsig). Me. Dos Reis sê dat daar gebou word op ’n erf in die omgewing en dat die persoon wat die gras gesny het, het ’n stok onder ’n stuk beton ingedruk waar die bye uitgekom het.

Die vibrasies van die grassnyer en natuurlik die stok in die korf, het die bye verwoed op almal in die omgewing laat toesak.
Die hardlopende mense het by me. Barnard, wat uitgekom het by haar huis om te hoor waaroor die kabaal gaan, verby gehol en die bye het haar op die neus gesteek.

Me. Dos Reis sê almal wat die petalje dopgehou het in die straat het vinnig in hul huise ingevlug toe die mense, met die bye agterna, aangehardloop kom. “Gelukkig was niemand allergies wat gesteek is nie!”

•Mnr. Nel het aangedui dat hy weens die baie reën die afgelope tyd nie die bye kon uithaal nie, maar dat vanaand (Maandag) die bye in Bloekomsig gaan verwyder.
Hy moet ook bye gaan uithaal uit ’n skoorsteen in Oribistraat (Kanonkop).

•Volgens hom is daar nou baie swerms bye wat trek as gevolg van die baie reën en plekke soek om nes te maak.

Hy vra dat mense onder geen omstandighede artikels soos buitebande moet brand of selfs vuur maak waar die neste is nie. Selfs blikkies gif wat gespuit word in die rigting van die bye, kan hulle beserk maak.

Bye reageer ook aggressief op die vibrasies van grassnyers, die reuk van vars gesnyde gras en selfs die diep geblaf van honde in hul omgewing. “Honde het géén kans teen bye nie, want hulle is in ’n erf, soms in ’n klein gedeelte, vasgekeer waar die bye hulle dan maklik kan doodsteek.

•Persone wat bye wil laat uithaal (teen ’n fooi), kan mnr. Nel bel by 083 655 0179.

 

 

 

Lees ook:

 

Nuwe tierbaba by Mbidi

Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk

Annica van Staden slagoffers verloor duisende

VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

 
Back to top button