News

Sakeman sterf in ongeluk, dag na waarskuwing

Net ’n dag nadat daar in die Daller koerant gekla is oor die slegte R33 (Groblersdal/Stoffbergpad), het mnr. Willie de Bruin, bekende sakeman van Middelburg, in ’n ongeluk op dié pad gesterf.

Die ongeluk het omstreeks 19:00 plaasgevind nadat mnr. De Bruin (eienaar van WJ Auto Electrical) se bakkie ’n hoop gruis, wat net na ’n blinde hoogte in die middel van die pad gelê het, getref het. Hy is uit die voertuig geslinger en het op die toneel gesterf.

Mnr. Thys Swart (van Carné Vervoer, Middelburg), wat saam met hom in die voertuig was, het ’n arm- en rugbesering opgedoen.

Die twee mans het vanaf mnr. De Bruin se plaas, Lekker Rus buite Groblersdal gery, om aankope te gaan doen vir jagters wat op die plaas was.
Hulle het omstreeks 18:30 nog vir familie laat weet dat hulle gaan ry.

Minder as ’n uur later is familielede van die ongeluk en mnr. De Bruin se afsterwe in kennis gestel.

Mnr. Willie de Bruin soos Middelburgers hom sal onthou. FOTO: Facebook.

•Mnr. De Bruin is presies vyf maande en ’n dag oorlede na die afsterwe van sy dogter, Cindy Exall. Me. Exall was 20 weke swanger en het weens ’n aggressiewe tipe kanker gesterf.
•Die familie is tans nog besig om begrafnisreëlings te tref. Sodra dit gefinaliseer is, sal dit gepubliseer word op www.mobserver.co.za.

Mnr. Willie de Bruin en sy dogter, Cindy Exall, wat net vyf maande gelede aan kanker gesterf het. FOTO: Facebook.

•In die Daller van verlede week is daar berig dat daar vier botsings in 24 uur op dié pad was verlede week tussen Sondag en Maandag.
Dié koerant het talle klagtes die afgelope tyd ontvang oor padgebruikers wat gemeld het dat die Groblersdal/Stoffbergpad erger lyk as voor konstruksie.
Daar is geweldig baie slaggate op die pad en verder is gesê dat konstruksiewerkers klippe in die pad gepak het, maar géén waarskuwingstekens aangebring het nie.

•Me. Anita Pieterse, wat 26km buite Groblersdal op die R33 woon. het verlede week gesê dat daar vier ongelukke binne 72 uur voor hul plaas was weens ’n groot hoop gruis en teer in die middel van die ryvlak, sonder enige waarskuwingsborde.
Twee van dié botsings was vragmotors wat regdeur die plaasheining gejaag het.

•’n Bakkie wat ’n wildswaentjie gesleep het, asook ’n dubbelkajuit Ford Ranger met vier insittendes, waarvan drie kinders, het in die hoop gruis vasgery.

•Mnr. Simon Mathibela, bestuurder van die Ford Ranger, het verlede Sondag omstreeks 19:00 in die gruis vasgery.
Dit is bykans dieselfde tyd wat mnr. De Bruin se bakkie die gruis getref het Saterdagaand.

Mnr. Mathibela het aan die Daller gesê dat daar geen waarskuwingsborde of padtekens was om padgebruikers te waarsku nie.

Hy het gemeld dat die gruis swart is, omdat dit met teer gemeng is en dat ’n mens nie die hoop in die donker kan sien nie. “Ek het trompop in die hoop vasgery en my voertuig het deur die lug gevlieg.”

•Daar is ook berig dat daar reeds een eis ingedien is teen RAL (Road Agency Limpopo) na verskeie voertuie beskadig is weens die toestand van die R33 pad tussen Groblersdal en Stoffberg.

Mnr. Cobus Peens, voorsitter van Groblersdal Landelike Veiligheid op die R33, het gesê dat hy vir die afgelope ses tot agt maande al besig is om die probleme op die pad aangespreek te kry.

Hy was omgekrap dat daar geen padmerke, sperstrepe of borde op sekere dele van die R33 is nie. Hy het gemeld dat die padreserwes ook nie behoorlik instand gehou word nie en die gras te lank is.

Mnr. Peens het ’n e-pos petisie gestig waarheen padgebruikers hul klagtes kan stuur.

Hy sê motoriste wat eise teen RAL wil indien vir skade ook welkom is om hulle inligting na die e-pos adres toe te stuur.
Die gemeenskap kan hul klagtes stuur na cobuspeens@vodamail.co.za.
Hy het gesê dat RAL gewaarborg het dat hulle die klagtes na die nodige instansies sal aanstuur.

•In November verlede jaar het Jacques Smalle, die DA se Limpopo Premierskandidaat, dié pad besoek en was uiters geskok oor die toestand.

•Daar is in November 2017 aangekondig dat die Stoffbergpad opgegradeer sal word en dat die projek reeds in Januarie 2018 sou begin. Inwoners van die Vallei was opgewonde dat die “nagmerriepad” ’n nuwe baadjie sou kry.

Tydens die konstruksiewerk aan die N11 na Middelburg, het die Stoffbergpad vir ’n geruime tyd gebuk gegaan onder vragmotors en voertuie as alternatiewe roete.

Die Stoffbergpad was nog nooit slaggat vry nie, maar was nog nooit so erg soos nou nie. Die probleem is onder die Limpopo DA se aandag gebring, wat op hul beurt druk uitgeoefen het op RAL (Road Agency Limpopo).

Ná RAL die toestand van die Stoffbergpad gesien het, was hulle so geskok dat die agentskap dadelik besluit het om dié pad ’n prioriteit vir 2018 te maak.

Daar is gesê dat die RAL ’n projek van R30 miljoen in Januarie 2018 geloods het om die Stoffbergpad op te gradeer. Fase een van die projek is goedgekeur en ’n kontrakteur is aangestel.

Mnr. Oosthuizen het later gesê dat die projek, kort na die kontrakteur begin het, tot stilstand geruk is. RAL het aan hom verduidelik dat lede van Elias Motsoaledi Besigheidsforum na die konstruksieterrein gegaan het en die kontrakteur gedreig het, aangesien die kontrakteur nie genoeg plaaslike werkers vanuit Wyk 12 en Wyk 13 in diens geneem het nie.

Hul het ook daarop aangedring dat die kontrakteur van plaaslike besighede gebruik moes maak om sy toerusting by te huur.
Later is die kontrakteur ook daarvan beskuldig dat hy nie sy werkers betaal nie.

Mnr. Smalle het belowe dat hy die probleem onder die Minister van Vervoer sa aandag sal bring.
Sy woorde was: “Daar is nie ’n R33 nie, die pad is nie geskik vir motoriste nie!”

In Januarie vanjaar het die kontrakteur weer aan die pad begin werk.
Mnr. Oosthuizen het gesê dat alhoewel die kontrakteur aan die pad begin werk het, hy vir weke op ’n slag verdwyn het.

“Daar is geen padtekens aangebring nie en ek het die probleem is reeds met RAL opgeneem, maar hulle hande is glo afgekap,” het mnr. Oosthuizen gesê.

 

 

 

 

 

Lees ook:

 

Nuwe tierbaba by Mbidi

Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk

Annica van Staden slagoffers verloor duisende

VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button