Prokureur van Pretoria deur Middelburg Veediefstaleenheid gearresteer
Daar is hierdie week ’n groot slag teen veediefstal geslaan toe twaalf mense, waaronder ’n prokureur van Pretoria saam met elf ander verdagtes gearresteer is.
Die arrestasies volg op ’n operasie wat deur die Middelburg Veediefstaleenheid saam met ACSU Sekuriteit en privaat persone uitgevoer is, nadat sekere inligting ontvang is.
Lees ook: Krugersdorp sakeman gearresteer vir veediefstal
Die operasie het vrugte afgewerp toe daar afgekom is op drie beestrokke, twee wat reeds gelaai was en ’n derde trok wat in die proses was om te laai, in die Breyten omgewing.
Lees ook: Boere moedeloos gesteel
Daar was altesaam 122 beeste gelaai, 57 beeste het gereed gestaan om te gelaai te word en nog beeste buite die kraal gestaan het.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê dat ’n 32-jarige prokureur van Pretoria asook nog ’n man die toneel gearresteer is. Baie van die verdagtes het egter weggehardloop. Daar is op die toneel ook beslag gelê op ’n Hilux bakkie en R95 000 kontant.
Lees ook: Veg terug teen veediefstal: ’n Halsband vir jou bees en ’n hommeltuig in die lug
Verdere ondersoek het gelei tot die arrestasie van nog tien verdagtes, wat die polisie vermoed die verskaffers van die gesteelde beeste was.

Brig. Hlathi het ook gesê dat twee mans en ’n vrou, wat die beeste moes oppas, deur veediewe vasgebind en aangehou is tydens die diefstal.
Lees ook: Waarskuwing aan boere – pas jul vee op hierdie feesseisoen
Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van veediefstal en die besit van gesteelde goedere.
•Daar is onlangs berig oor ’n boer van Hendrina wat net minder as 100 beeste op een slag verloor het.
•Die mans se name word weerhou totdat hulle in die hof verskyn het.
•Daar is oorspronklik berig dat die prokureur se pa saam met hom gearresteer is na gelang van ’n polisie verklaring. Daar is egter betroubare inligting bekom dat die prokureur en die ander man wat op die toneel gearresteer is, nie bloedverwant is nie.
