Tragiese ongeluk eis lewe van twaalfjarige seun en bekende sakeman
Die Belfast gemeenskap is geruk met die afsterwe van die twaalfjarige Ruan Uys en bekende sakeman, mnr. Jaco de Beer, in 'n ongeluk by Vrede.
Mnr. De Beer (eienaar van Boven TV & Security), Ruan, asook Ruan se pa, Thys Uys (van Thys Uys Elektries) het op 22 Mei omstreeks 02:00 die oggend na Ladysmith vertrek om bulle te gaan koop.
Mnr. Uys se broer, Nico, vertel dat hulle ook op Greyling by Vrede wou stop om ramme aan te koop.
Omstreeks 11:00 het mnr. Uys by die afrit gestaan om in te draai na Vrede se rigting.
‘n Groot trok, wat na bewering teen ‘n hoë spoed gery het, het aan die verkeerde kant verby gesteek en bo-oor die voertuig gery waarin die twee mans en seun was.
Die beseerde mnr. Uys, asook Ruan en mnr. De Beer was onder die trok vasgepen.

Mnr. Uys, wie se kop en bolyf by die venster uitgesteek het, is na twee ure eers bevry en na die Hoogland Hospitaal in Bethlehem afgevoer.
Hy het ribbes gebreek en erge kneus- en snywonde opgedoen.
• Verlede Donderdagoggend het die gesinne vertrek na Vrede om reëlings te gaan tref om die oorskot van Ruan en mnr. De Beer na Belfast af te voer.
•Ruan het op 18 Mei sy twaalfde verjaardag gevier. Hy was ‘n leerling van Belfast Akademie waar hy presteer het in rugby en hokkie. Hy het ook uithouritte gedoen.
Ruan word oorleef deur sy pa, Thys, ma Yvette (van Wapenaar Prokureurs) en sy tweelingsussies, Ammy en Ashley.
•Mnr. de Beer was passievol oor bosvarkjag en was regdeur Mpumalanga bekend daarvoor dat hy boere gehelp het om bosvarke uit hul lande te hou.
Hy word oorleef deur sy vrou Monica (eienaar van EJH Accoutants) en hul tweejarige seuntjie, Janru.
Die begrafnisreëlings sal in Vrydag se uitgawe van die Middelburg Observer gepubliseer word.
Lees ook:
Video: Opruimingswerk begin na drie damwalle breek weens wolkbreuk
Annica van Staden slagoffers verloor duisende
VIDEO: Seekoei kuier op Elandslaagte
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
