News

Vrou wat man skiet tot gevangenisstraf gevonnis

Die vrou wat haar man in die rug geskiet het, is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis

Annamarie Mulder, het haar man Seef op 2 Oktober 2013 geskiet.
Streeklanddros Andreas Masteroudes het haar vyf jaar gevangenisstraf opgelê.

Haar advokaat, Denton Goodford, het verlof tot appèl teen die vonnis gevra en mnr. Masteroudes het dit toegestaan.
Daar is ook verlof tot appèl gevra teen die skuldigbevinding op ‘n klagte van poging tot moord, maar dit is geweier.
Borg is toegestaan aan me. Mulder (nou Fraser) tot uitspraak in die appèlsaak gelewer is.

•Staatsaanklaer mnr. Derik Rowles het ter strafverswaring gesê dat poging tot moord een van die ernstigste misdrywe in die land is.
Mnr. Rowles het die aand van 2 Oktober 2013 as volg beskryf:
“Die beskuldigde het drie goed gekorrelde skote in die rug van die klaer gevuur. Daarna opgestaan, nadergestap, en op ‘n nog, korter afstand hom nog een keer in die rug geskiet.

Hy het gesê dat die handelinge van die beskuldigde van so ‘n aard was “dat dit blote geluk is” dat sy nie aangekla is vir moord nie.
“Sy het absoluut alles gedoen wat sy moes doen om die lewe van die klaer te beëindig en het waarskynlik gedink dat sy dit inderdaad gedoen het.”
Mnr. Rowles het gesê dat me. Mulder die erg beseerde, bloeiende klaer, net so op die grond gelos en verder voortgegaan het om die veiligheidsdeure te sluit.

“Sy het enige moontlike, vinnige hulp vir die klaer uit die weg geruim.” Hy het gesê dat sy ook nie enigiets gedoen het om die klaer se lewe te probeer red nie.
Mnr. Rowles is van mening dat me. Mulder “koelbloedig en berekenend” opgetree het toe sy hom geskiet het.

“Nie net was haar skote duidelik afgemeet, gekorrel en afgevuur nie, sy het selfs nader gestap ten einde die finale doodskoot toe te dien.”
Mnr. Mulder was 19 dae in die intensiewe eenheid van die Life Midmed hospitaal, waarvan 15 dae in ‘n koma.
Hy het die volkome gebruik van sy regterarm verloor en probleme met visie in sy een oog.
Vir 18 maande na die skietvoorval kon hy nie werk nie. Hy moes al sy bates verkoop om te oorleef.

•Streeklanddros Masteroudes het gesê dat die hof die moontlikheid voorsien dat mnr. Mulder ‘n selfgesentreerde, moedswillige, buierige en wraaksugtige persoon was en dat hy sy vrou voor sy kinders “‘n heks” genoem, haar voor ander mense verkleineer, haar emosioneel afgekraak en verskeie kere beledig het.

Mnr. Masteroudes het egter gemeld dat provokasie nie ‘n skuldonteiening is nie.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer. More »
Back to top button