Drie aronskelke vir Natie
Die vrou wat in smart en pyn liefde gegee het, met wildeblomme onthou
Natie du Toit kan bekend staan as “Middelburg se aronskelkvrou”.
Dié vrou, wie se naam in die dorp se geskiedenis bekend sal staan as die een wat liefde betoon het in diepe smart, het op 25 September haar drie aronskelke gekry.
Die Middelburg Erfenisvereniging het op haar sterwensdatum drie aronskelke op haar graf geplaas.
Natie kom op 1 September 1901 in die Balmoral-konsentrasiekamp aan, maar word kort daarna oorgeplaas na waarskynlik die tweede konsentrasiekamp op Middelburg, waar sy een van die kampskoolonderwysers word. Haar pa en die res van die gesin kom op 26 September 1901 ook in die kamp aan.

Dit is volgens bronne tydens haar verblyf in die Middelburg-konsentrasiekamp dat sy aronskelke in die vleie naby die kamp afsny en die blomme op grafte plaas.
Sy plaas ook van die aronskelke in die inwoners se tente. Die aronskelke het hoop, vertroosting en skoonheid tussen die ellende gebring.
Na die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902, sluit die kampe stelselmatig en keer inwoners terug na hulle plase.
Natie was ook een van die eerste studente van die Normaalkollege Pretoria.
Dié kollege het op 2 September 1902 ontstaan toe die eerste student, Maria Elizabeth Bosman, vir haar studies aangemeld het.
Op 3 September 1902 meld Hendrika Vogelzang van Middelburg aan as tweede student en Johanna Petronella Wilhelmina du Toit, of Natie, soos sy bekend staan, meld op 15 September 1902 as die negende student van die Normaalkollege aan.
In die tydperk einde 1902 tot middel 1903 versoek mej. Alice Acutt, die Engelse lektrise, die studente om ’n embleem en leuse vir die kollege te ontwerp.

Natie skilder op ’n tekenplaat drie aronskelke as haar voorstel vir die kollegewapen. Die voorstel word aanvaar, maar die kunslektrise, mej. S.C. Harding word versoek om die geskilderde aronskelke te rangskik vir die finale wapen.

Die rede vir Natie se keuse van die drie geskilderde aronskelke kom na vore in die gedenkalbum NKP 1902 tot 1977 waarin prof. C.K. Oberholzer noem dat hy ná Natie se dood ’n gesprek met haar seun, TC, gevoer het waartydens hy vertel het dat sy moeder tydens die Anglo-Boereoorlog aronskelke, wat welig in die vleie tussen die kamp en die begraafplaas gegroei het, afgesny het en dit op die grafte van afgestorwe vroue en kinders geplaas het. In TC se biografie vertel hy ook van Natie se liefde vir aronskelke wat ook welig in die vleie op die plaas Blesbokvlakte gegroei het.
Natie verlaat die Normaalkollege op 26 Junie 1903. Selfs die Kollegelied (CF Rudolf, 1942) bevat verwysings na Natie se aronskelke as “jou lewe is fakkels”. Daar word ook ’n kollegekoshuis na Natie vernoem.

Op 2 September 1952 word ’n standbeeld van Natie voor die Normaalsaal op die kampus onthul. In 2000 word die Onderwyskollege geïnkorporeer by die Universiteit van Pretoria en die beeld staan voor die administratiewe kantore van die Groenkloof-kampus.
