Bejaarde boer vasgebind en aangerand tydens plaasaanval
‘n Bejaarde boer in die Elandslaagte omgewing is ongenadiglik vasgebind en geweldig aangerand tydens ‘n plaasaanval wat in die vroeë oggendure plaasgevind het.
Mnr. Dirkie Buys werk al vir oor die 12 jaar as plaasbestuurder vir Nico Naudé, ‘n plaaslike hoenderboer en eienaar van die grond.
‘n Nabye familielid, Mnr Wiekus Lusse, het vertel dat sy vrou se oom deur vier verdagtes vasgebind en met die vuiste geslaan is, voordat hulle sy hele kamer omgekeer het en weggemaak het met hulle buit, wat onder andere sy tv en kos insluit.
Mnr Buys, wie in sy laat 60’s is, is eers om 08:00 vanmore deur van sy plaaswerkers ontdek. Wiekus vertel dat sy hande en voete geweldig geswel was weens die tou waarmee hy vasgebind is.
Hulle kon uiteindelik deur die hulp van Middelburg noodgroepe ‘n ambulans ontbied, nadat die polisie vir Wiekus prontuit gesê het dat hulle geen gekwalifiseerde lede het wat in die reën kan ry nie.
Mnr Buys is op die toneel deur paramedici behandel en later na die hospitaal afgevoer.
Die polisie het steeds nie by die toneel opgedaag, ten tye van beriggewing nie, en die vier aanvallers is steeds op vrye voet.
