Oudleerlinge en kollegas onthou Jacques Ferreira
Oudleerlinge deel hulle gunsteling herinneringe van die wyle Jacques Ferreira.
Marié Beukes
Mister Ferreira was my English teacher in high school, he was a really great guy. He motivated me to do better. When I finished school I bumped into him a couple of times and he was still motivating me. He was very kind to me. He was a very friendly teacher that made all of us laugh. His manner of teaching kept us intrigued.
He will be dearly missed.
Pieter Naude
Ek sit hier terwyl trane van my wange af rol, ek is wel nie ’n oudleerling van Hoërskool Middelburg nie, maar ek het die voorreg gehad om vir twee jaar klas te kry by die wonderlike mens. Daar is nie woorde om te beskryf hoe hy my lewe aangeraak het nie. Hy was meer as net ’n onderwyser, hy het verstaan en die beste raad gegee, hy het my in ’n beter mens verander. Dankie vir alles meneer.
Esmeralda Hartwell was Wepener
Hy het een keer die deur gesluit, al die vensters wat na die stoep toe wys was toe en die vensters wat op die rugbyveld uit kyk was oop.
Toe klim hy op sy tafel en begin uit Macbeth te lees.
Skielik slaan hy daar op die grond voor die swartbord neer en gryp sy keel. Lyk soos stuiptrekkings.
Ons klomp het ons dood geskrik, ons kon nie by die deur uitkom nie want die sleutels was in sy sak. Die vensters op die stoep was toe en met drade vas, nie een van ons wou van die derde verdieping af spring nie. Party van ons het hom probeer help. Ander het gehuil en ander het gebid.
Nadat die stuiptrekkings en geluide so ’n paar minute aangehou het, het hy opgestaan, sy broek afgeskud en heel nonchalant vir ons gesê: “Ladies and gentlemen that is your introduction to Macbeth”.
Ons was so verleë, hy het die vorige dag gesê hy gaan ons verbeelding aangryp…
Mnr. Ferreira was een van my gunsteling onnies.
Dit is baie hartseer dat hy oorlede is. Hy sal gemis word. Baie van ons se lewens is gevorm deur hom. Hy was streng, maar nie onredelik nie.
Lizelda
Hy was maar ’n kwaai meneer as jy in standerd ses was daai tyd, nou praat ek van nege jaar terug…
Ek was nou nie een van die soetste meisies op skool nie, so hy het my fyn dopgehou, ek wou altyd iets opwindend stout aanjaag… Jy sal nie sy naam of sy gesig vergeet nie, hy het sy merkie gemaak in baie mense se harte.
So dis 2012 begin van die skooljaar, en soos gewoonlik kry ek my deurmekaar met “verkeerde”
vriende.
Maandagoggend besluit ons om stokkies te draai.
Iemand sien ons en bel die skool, en wie stuur hulle om ons te kom haal… Meneer Ferreira! Ek is paniekbevange toe die skool se bakkie skielik stop met twee kwaai menere binne.
Glo vir my, ek het die bedonderdste pa wat jy kan kry. Dink so bietjie daaroor na en besluit toe, okay wel kom ons sê jou pa se nommer het verander. Meneer Ferreira glo my nie en sê as die laaste klok lui vir huistoe gaan tyd, sal hy my pa kom sien as hy hier stop.
Lang storie kort. Meneer het elke liewe dag seker vir so week my ingeroep en gevra wanneer sien ek jou pa oor die snert wat jy saam met jou maatjies aanvang.
Ek het elke keer ’n nuwe verskoning gehad en hy het my elke dag raakgeloop.
Ek dink hy toe maar opgegee en dit net laat gaan.
Sterkte aan die familie en vriende in hierdie moeilike tyd.
Die Liewe Heer daar bo sal daar wees in die tyd.
Marice
I was an English Additional Language student in your class about 15 years ago. You were the best teacher ever. You were fun and also strict when necessary. You were considered of all circumstances and accepted and treated us all fairly, disregard what race you from.
We were free in your class and we all passed very well. We will never forget Macbeth and we will never forget you. Rest in peace to Die Beste Onnie, in die Hemel is ’n plek vir jou.
Kris van Straaten
Ek het vanoggend met ’n swaar hart en hoendervleis verneem dat Mnr. Ferreira oorlede is…
Een van ’n handjievol onderwysers wat werklik ’n verskil in my lewe gemaak het.
Slegs ’n paar weke gelede het ek en hy nog stories gedeel oor my skooldae…..
Een van die gunsteling stories was een nag in 1997 – gedurende ’n oggend opening is ons toegespreek deur ’n oud Middie en Springbok kaptein Wynand Claassen.
Met groot verwondering het ons na sy staaltjies geluister, waaronder ’n aand waar die skool se dak geverf is om bietjie “gees” te vang.
Sommer dadelik het ek en ’n klomp koshuis seuns besluit om presies dieselfde te doen en planne beraam om die skool so bietjie te verf!
Laat daardie nag is die hele Excelsior koshuis voor die skool besig om die aantreeblok te verf….
Ondermeer het twee van my vriende ’n leer tot hulle beskikking gehad en het op die platform voor die skoolsaal se ingang geklim, dit was moontlik om weg te kruip binne in die platform.
Van daar af kon hulle op hulle gemak “MHS” in groot wit letters verf aan die buitekant van die platform.
Ongelukkig was die fyn beplande plan ontwrig deur ’n sekuriteitsgroep wat ons gewaar het – ligte en sirenes het geloei en ons het gespaander in al die windrigtings.
Stadig, een vir een het die seuns hulle pad terug gevind koshuis toe – niemand is gevang nie en dit het gelyk of ons die “reg” ontduik het….
Almal behalwe twee het nie teruggekom nie – dit was dieselfde twee wat op die platform geverf het.
Sowat ’n uur later het ek Mnr. Ferreira se koshuis woonstel deur hoor oopgaan en voetstappe in die gang hoor afstap.
Iemand het my deur oopgemaak en die kamerlig aangesit – en met ’n skewe glimlag gevra waar my kamermaat was.
Ek het nie ’n keuse gehad as om met die waarheid uit te kom nie. Maar in plaas daarvan dat ek en die res van die koshuis tot verantwoording geroep word, het Mnr. Ferreira vir my en nog ’n koshuis brak deur sy woonstel geneem en ons in sy “Camry” laat klim wat agter die koshuis parkeer was.
Ons het omgery en het by die skool se hoof hek ingery, daar gestop het ek uitgespring en my kamermaat se naam geroep – “Hantas, Hantas?”
Skielik het twee koppe bo die platform uitgeskiet – die leer wat hulle gebruik het, het hulle opgetrek na bo en daar weggekruip vir die sekuriteit en later die polisie.
Hulle moes ’n goeie twee ure doodstil lê om nie gevang te word nie.
Die leer is laat sak en hulle is verlos van hulle koue wegkruipplek.
Mnr. Ferreira het uit sy maag gelag en ons terug koshuis toe geneem in sy Camry.
Daar is nooit ’n woord gerep oor die voorval nie en Mnr. Ferreira het ons nooit verklap nie.
Hy was ’n man wat verstaan het dat seuns soms seuns is en dat kattekwaad ook deel van koshuislewe was.
Hy was ’n puik mens en ’n uitstekende onderwyser.
Rus in vrede Mnr. Ferreira – daar is min soos jy.
Jan Potgieter oud adjunkhoof Hoërskool Middelburg
Dis met geweldige skok dat ons verneem het van my oudkollega Jacques se dood. Ek en hy het nou saamgewerk in die Departement Engels vir 13 jaar. Hy was een van die toegewydste, geesdriftige en flukste onderwysers wat ek in my loopbaan teë gekom het.
Wat ’n verlies vir die onderwys en toekomstige leerlinge.
Rest in peace old colleague.
Lyndell
Ek is nou al 15 jaar klaar met skool en tot vandag toe onthou ek hoe jy met my baklei het omdat jy my op ’n plek in die klas gesit het waar ek nie wou wees nie, Mnr. Ferreira jy is en sal altyd in baie van ons mense se harte wees, Middies het ’n groot legende verloor – tot ons weer ontmoet.
