16 Wiele van sleepwaens af gesteel
Die wieldiewe het met mening toegeslaan by ’n besigheid wat sleepwaens verkoop en uitverhuur en weggekom met 16 wiele.
Die wieldiewe het met mening toegeslaan by ’n besigheid wat sleepwaens verkoop en uitverhuur en weggekom met 16 wiele.

Me. Jané Groenewald sê iets moes die boewe gepla het by hul besigheid, H & M Trailers in Lilian Ngoyistraat (Middelburg), want by een van die sleepwaens het hulle net twee van die wiele gevat en by ’n ander een het hulle net die wielmoere losgedraai.

’n Toebak Venter sleepwa is ook gesteel en die vermoede bestaan dat hulle die wiele op ’n voertuig en in die waentjie gelaai het voor hulle gevlug het.
Die diewe het voorbereid gekom, want nie net het hulle hul eie wielsleutel en boutsnyer gebring nie, maar hulle het ook die hond (’n boerboel) op die perseel gif gegee. Die hond is eers om 11:30 agter ’n muur gevind en na die veearts gejaag, waar die dier tans nog vir vergiftiging behandel word.
Me. Groenewald sê sy het gister omstreeks 07:00 by die werk gekom en gewonder waarom die hond haar nie by die hek verwelkom nie. Sy het dieper die perseel ingestap om die hond te soek, waarop sy op die verwoesting in die besigheidserf afgekom het.
Oral het waentjies op plaveiselstene, wat uit hul eie plaveisel gehaal is, gestaan.

Al die kettings waaraan die waentjies vas was, is losgesny met die diewe se boutsnyer en die 16 wiele gesteel.
Die diewe het in hul haas om weg te kom, hul wielsleutel op die perseel vergeet. Hulle het toegang tot die perseel verkry deur oor die muur te klim en die hekmotor buite aksie te skuif.
Daarna het hulle die hek oopgeskuif en met hul eie voertuig ingekom om die sleepwa en wiele te laai.

• Van die rooiworsies waarin die gifkorrels was, is ook op die perseel gekry. Die vermoede bestaan dat Temik-gif (ook Two Step genoem omdat dit so vinnig werk) gebruik is.
• Enige persoon wat inligting het van die diefstal of waar die sleepwa is, kan me. Groenewald bel by 072 862 6263.
