News

Die einde van die brief?

Posbusse by winkelkomplekse verwyder en selfs ou, rooi posbus kan waai.

Die einde van die brief het straks aangebreek.

Die Poskantoor het reeds al die posbusse by die Sentrasentrum in Dennesig verwyder.

Die bekende ou, rooi posbus en al die posbusse wat ’n baken was by die Kanonkop Sparsentrum, is volgende op die lys.

‘n Koevert.
Eerstedagkoeverte van die Van Riebeeckfees. Eerstedagkoeverte met spesiale seëls, ook van Botshabelo, is gereeld uitgereik vir spesiale geleenthede. FOTO: Verskaf.

Fathima Gany, waarnemende hoof- uitvoerende beampte van die Poskantoor, sê die posbusse by die Sentrasentrum in Dennesig, Middelburg, is verwyder weens min gebruik. Dit is verskuif na die hoofposkantoor in Middelburg. Die posbusse by Spar Kanonkop gaan om dieselfde rede ook verwyder word.

Volgens Gany bly die posbusse by die hoofposkantoor in die Middelburgse sakesentrum beskikbaar vir kliënte en daar is tans geen planne om dit te verwyder nie. Die Middelburg-poskantoor bly ook oop en gaan voort om posdienste te lewer, insluitend die hernuwing van motorvoertuiglisensies, die betaling van AARTO-oortredings, en die betaling van rekeninge deur middel van kaart- of kontantbetalings.

Middelburg se posgeskiedenis begin al voor 5 September 1872.
Edward Leon Green skryf in sy meestersgraadverhandeling wat hy op 28 April 1987 aan die Middelburg-munisipaliteit oorhandig het, dat die dorp ’n deurgang verskaf het na Pelgrimsrus se goudvelde. Die paaie van die delwerye het gelei vanaf Lourenço Marques (Maputo), die Kaapse hawens en Kimberley, veral Potchefstroom, Pretoria, Heidelberg en Utrecht deur Middelburg en Lydenburg.

‘n Ou poskoets met perde.
Die Germiston-poskoets op die hoek van OR Tambo-en Cowen Ntulistraat. Die koets het Suid beweeg in OR Tambo op pad na die skouterrein, die huidige burgersentrum. FOTO: Rose Antrobus – Laver-versameling – KI gekleur.

Middelburg het op die vaste poskoetspad vanaf Pretoria na Lydenburg gelê, met die poskantoor by Botshabelo, ’n Duitse sendingstasie. Botshabelo was op daardie stadium ouer as Middelburg en het oor geriewe beskik soos ’n winkel en werkswinkel, waar herstelwerk aan die poskoets gedoen kon word.

Inwoners van die dorp het die sendingstasie gereeld besoek om hulle lewensmiddele daar te koop. Teen die einde van 1872 het landdros AB Joubert opdrag gegee dat die poskantoor na Middelburg-dorp geskuif word en ene M Yssel is op 11 Desember 1872 aangestel as posmeester.

Die poskoets het Donderdae om 11:00 op Middelburg aangekom. Vanaf Lydenburg en vanaf Pretoria was die reëling dat die poskoets om 12:00 op die dag van vertrek in Middelburg sou aankom. Theo Ligthelm van die Middelburg Erfenisvereniging sê waar die roeskol op die geskiedkundige ou, rooi posbus is, was daar voor 1961 ’n kroon. Na dit kon daar ’n landswapen wees, maar nie almal het wapens op gehad nie. Die wapen was ook ingegiet in die deurtjie.

Die muur met die naam Middelbur by die poskantoor.
“Transvaal” is verwyder en nou staan daar op die poskantoormuur net “Middelbur”. FOTO: Tobie van den Bergh.

By navraag het verskeie mense gesê hulle gebruik nie meer posbusse nie, maar onthou hulle posbusnommer. Daardie nommer was amper ’n statussimbool en dit was ’n groot eer om posbus nommer een te besit. Die Middelburg Observer se posbusnommer was vir jare 36. Raadslid Elsie Vermooten sê hulle nommer was 540. “My kinders het altyd met hulle handjies die nommer geleer.”

Besighede en firmas soos prokureurs het ’n spesiale posbode gehad wat elke dag gaan pos uithaal het. Die posmeester was ’n baie belangrike persoon en die posman, wat met ’n fiets gery het, is gerespekteer. Jong troepe het weekliks met groot afwagting gewag vir “posparade” en ’n briefie of pakkie van die huis af.

Soms het hulle ’n “Dear John”-brief gekry of afsêbrief. Die term het tydens die Tweede Wêreldoorlog ontstaan, toe vroue briewe aan hul kêrels of mans op die oorlogsfront gestuur het, om hul verhoudings te beëindig. “John” was destyds een van die mees algemene mansname in Engelssprekende lande en het ’n algemene naam geword vir enige soldaat wat so ’n brief ontvang het.

Bewoording op ‘n posbus.
Die bewoording op die geskiedkundige rooi posbus. FOTO: Tobie van den Bergh.

Kerstyd is miljoene kerskaartjies regoor die wêreld gepos. In Suid-Afrika het mense die kerskaartjies op hulle vertoonkas uitgestal. Kersfees was al lankal verby, dan het die kerskaartjies nog daar gestaan. Kinders het selfs briefies in daardie tyd aan “Kersvader” gepos, met die hoop dat dit by hom sal uitkom.

Wie weet vandag wat is ’n frankeermasjien? ’n Frankeermasjien het ’n posmerk of stempel direk op koeverte en pakkies gedruk, in plaas daarvan dat jy tradisionele posseëls gebruik. Dit het gewys dat die posgeld reeds betaal is.

Die Poskantoor het ook vir ’n politieke herrie gesorg. ANC-raadslid Diphale Motshepe was vies dat die woord “Transvaal” na meer as twee dekades van demokrasie op die poskantoormuur oorleef het. Hy het beswaar gemaak en die naambord is met so min skade as moontlik aan die mosaïekkunswerk waarop dit aangebring is, verwyder en in die Poskantoormuseum in Pretoria uitgestal. Vandag staan daar net “Middelbur”.

Die fondament van die verwyderde posbusse.
Al wat oorgebly het van die posbusse in Dennesig. FOTO: Tobie van den Bergh.

Hierdie skrywer het ook gedink dit is die einde van briewe. Hy het Saterdag vir iemand in die tronk gaan kuier. Toe hy loop, vra die gevangene: “Sal jy asseblief hierdie brief vir my vrou gee?”
Dit is dalk die einde van posbusse, maar lank lewe die brief!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button