News

Man vertel van nagmerrie in hande van 12 kapers

Bruce Engelbrecht het ’n kaper aan die nek beetgekry, maar moes sy hande magteloos laat sak, sodat hy en sy seun nie doodgeskiet word nie.

Mnr. Engelbrecht en sy seun, Bradley, is op 18 Februarie vanjaar op die N3 tussen die Villiers en Heidelberg tolhek gekaap en is vir etlike ure deur die kapers aangehou.

“Ek weeg 120kg en het die kaper aan sy nek beetgekry om sy nek te breek, maar Bradley het my gekeer en gesê hulle gaan ons skiet. Ons moet doen wat hulle sê.”

Hy het gehoor van me. Gerda Toms en haar seun, Joshua, wat Vrydagaand, net na die N12 afrit, deur die “blouligbende” gekaap is. Hy het haar gekontak en vertel dat ook hy vroeër vanjaar op dieselfde wyse gekaap is.

Me. Toms en Joshua was op pad terug vanaf Forever Resorts Loskopdam, waar Joshua aan die SA Kunshaas Hengelproewe deelgeneem het.

Lees ook: Vrou en seun deur ‘Blouligbende’ op N12 gekaap

“Hulle kaap nie net mense in Gauteng en Mpumalanga nie. Dis regdeur die land ’n probleem. Daar was verlede jaar al op Carte Blanche daaroor berig.”

Mnr. Engelbrecht vertel dat hulle twee die betrokke dag op pad terug was van Durban na Johannesburg in sy Land Cruiser VXR200 (dieselfde tipe Land Cruiser as me. Toms).

Hulle het ’n sleepwa gesleep met Bradley se veldmotorfiets bo-op.

Tussen die tolhekke, het Bradley vir sy pa gevra of hy die spoedgrens oorskry het, aangesien daar ’n voertuig agter hulle is met flitsende ligte. Mnr. Engelbrecht het aangeneem die persoon wil verbygaan en het oorbeweeg vanaf die vinnige baan na die linkerbaan.

Die voertuig het egter weer agter hulle inbeweeg.

Bradley Engelbrecht.

Die volgende oomblik het hy die blou ligte gesien en afgetrek.

“Die man wat na my toe aangestap gekom het, was in vol polisie-uniform, met ’n pet en ’n polisie dienspistool aan sy sy. Ek ken die polisie se wapens, aangesien ek op ’n stadium ’n vuurwapen instrukteur was en baie polisie rekrute opgelei het.”

Daar is vir sy bestuurslisensie gevra en deurentyd in die rigting van Bradley gekyk.

“Hy het gevra wie dit was en toe ek sê dis my seun, het hy in Engels gesê hy vertrou hom nie.”

Die “polisieman” het talle vrae begin gevra.

“Hy wou weet of ons gedrink het en ek het gesê nie een van ons drink nie. Daarna wou hy ook weet of ons dwelms gebruik.” Mnr. Engelbrecht het na sy horlosie geloer en besef dit raak laat en dat hulle in die Covid-19 inperkingstyd op die pad gaan wees.

Lees ook: Blouligbende kaap kolonel

“Ek het nog vir hom gevra hy moet asseblief net later vir my ’n brief gee dat hy ons afgetrek het, want dit was al 22:15 en sou ons dan onwettig op die pad wees. Hy het net gelag.”

Die man in blou het ook aangedring om hul voertuig te deursoek. Mnr. Engelbrecht het oorgeleun na sy paneelkassie om sy lisensie uit te haal, waarop die kar blitsig deur die booswig oopgesluit is van buite af.

Daar was skielik nóg vier booswigte met 9mm pistole in hul hande saam met die kamtige polisielid by die voertuig en Bradley se deur is oopgepluk.

Een kaper het bo-op Bradley gespring. “Hulle het gesê: ‘don’t say a word. We want money, cell phones and laptops.”

Mnr. Engelbrecht het op nog gedink hulle soek net die inhoud van die voertuig en het onder andere sy Rolex vir die kapers gegee en gesê: “Please do not hurt my son.”

Hulle het die twee mans hardhandig tussen die twee sitplekke inforseer (soos in me. Toms se geval).

Dit was een te veel vir mnr. Engelbrecht en het hy die een kaper aan die nek gegryp. Bradley het hom gekalmeer en hulle moes gesig na onder op die sitplek lê. Pa en seun se hande is met kabelbinders só styf vasgemaak dat Bradley sy hand vir ’n maand daarna nie kon gebruik nie.

Mnr. Engelbrecht se VXR200 Land Cruiser waarin hulle gekaap is. Die kapers het weggekom met sy voertuig en die voertuig is steeds skoonveld.

“Hulle wou my hemp oor my kop trek, maar ek het engtevrees, waarop hulle ons eie handdoeke oor my kop gegooi het. Hulle het Bradley se baadjie oor sy kop getrek.”

Terwyl hulle so ry, het die kapers op ’n stadium ’n U-draai gemaak op die pad en hulle het gehoor hoe die sleepwa die voertuig beskadig. Daarna het hulle in mielielande in gejaag.

Bradley kon effens uitloer en het gesien dat nog ’n voertuig, ’n Toyota Hilux bakkie, hulle volg. Daar is later verneem dat dié spesifieke bakkie vroeër die aand op dieselfde pad gekaap is.

Die kapers het in die mielielande gestop en die twee mans het gesien dat daar nóg ’n voertuig by hulle aangesluit het.

“Daar was op ’n stadium 12 kapers.”

Terwyl hulle in die mielielande gestaan het, het die kapers gevra watter tipe opsporingstelsel hulle het. Mnr. Engelbrecht het ’n naam van ’n opsporingstelsel genoem, maar die kapers het na ’n kort rukkie teruggekom en gedreig om hom dood te skiet as hy nie sê presies watter tipe stelsel sy voertuig inhet nie.

Lees ook: Verkeerskonstabel met blou lig kaap trok op N4

“Hulle weet hoe werk elke opsporingstelsel en hoe om dit buite aksie te stel!”

Daar is ook vir hul pinnommers gevra en het ’n groep kapers by hulle gebly en van die ander kort na middernag gery om geld te gaan onttrek. Een kaper het op Bradley se KTM veldmotorfiets geklim en gevra vir die sleutel.

“Ons het verduidelik dat die motorfiets nie ’n sleutel gebruik nie en dat ek hom sal wys om dit aan die gang te kry.”

Die boef het egter van die motorfiets afgeklim en dit op die sleepwa gelos.

Teen 03:15, nadat die kapers twee keer geld getrek en al hul persoonlike besittings, soos hul horlosies (waarvan een ’n Rolex) en selfone gevat het, het die kapers met drie voertuie weggery.

Lees ook: Blue light hijackers target N4 Bronkhorstspruit

Bradley het met sy motorfiets na die naaste plaashuis gery, waarna verskeie boere van hul buurtwaggroep en Cartrack, hulle gehelp en ondersteun het.

“Toe ons by die Grootvlei Polisiestasie kom, was die polisiestasie gesluit! Ek kon nie daardie aand ’n verklaring aflê nie.”

• Mnr. Engelbrecht sê sy Land Cruiser en al die waardevolle artikels wat in die voertuig was, is skoonveld.

“Ek het meer as R2.5 miljoen se skade gely!”

Die polisie het hulle later gevra of een van hulle ernstig gebloei het. Mnr. Engelbrecht sê alhoewel hy verskeie kere met die vuis geslaan is, het hy nie erg gebloei nie.

Daar is bloed gekry in die area waar die sleepwa en motorfiets gestaan het.

Die vermoede bestaan dat een van die kapers onder die sleepwa beland het, toe hulle hom losgehaak het van die voertuig en weg geskuif het. Hy is waarskynlik ernstig beseer.

• Mnr. Engelbrecht is self ook ’n gereelde hengelaar by Forever Resorts Loskopdam en het gemeld dat hy en Middelburg se bekende hengelaar, Wayne Naudé, groot vriende is. Mnr. Engelbrecht het in die verlede vier keer bote geborg vir nasionale hengelkompetisies.

Do you have a news lead?

Contact our editorial office on 013 243 1434 or our standby number for emergencies on 072 248 3855 to share your story with us.

Follow us on the Middelburg Observer Facebook group or page or send a whatsapp to 072 248 3855 with the words “add me” for the latest news.

Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news

Dear reader,

As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online.

Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol.

A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19. Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button