“Polisiemanne” hou twee mans vir ure aan – dreig om hulle dood te skiet
Die blouligbende voer steeds ’n skrikbewind.
’n Boer en sakeman van Middelburg was Sondagaand die jongste slagoffer.
Mnr. Piet du Toit het na ’n driedaglange fietstoer van George af terug gevlieg en is by die OR Tambo Lughawe deur ’n bestuurder opgelaai.
Net na 20:00 is hulle verby ’n polisie padblokkade waar ou tipe polisie bakkies voertuie met Mosambiekse registrasienommers afgetrek het.
Die volgende oomblik, ’n paar kilometer na die Petrostop op die N12, het ’n Audi Q7 van agter gekom en sy bakkie van die pad gedwing. Die vier mans wat uitgeklim het was in volle polisiedrag geklee, maskers, baadjies, alles.
Hy het sy drywer, Leonard Mahlangu, beveel om te ry, omdat hy ongemaklik gevoel het, maar dit was te laat.
Dit was duidelik dat die “polisiemanne” weet wat hulle doen, want hulle was blitsig in die bakkie.
Die twee mans is na ’n stortingsterrein anderkant Carnival City geneem, waar hulle vir ure met vuurwapens aangehou is en hulle pinnommers moes verskaf. Albei se skoene is gevat.
Die kapers het naarstigtelik na die Tracker in die bakkie gesoek.
“Ek het vir die man gesê ‘skiet my maar my lewe is reg’ maar dan verloor ons albei.” het mnr. Du Toit gesê, toe hy gedreig is dat hy doodgeskiet sal word as hy nie die korrekte pinnommer verskaf nie.
Hy moes ook by die mans pleit om mnr. Mahlangu nie te skop nie, toe hulle op hom toesak.
“Eintlik het daar ’n klein wonderwerk gebeur, daar was soveel genade.”
’n Sekuriteitsbakkie het by die stortingsterrein opgedaag en die kapers het ’n ent weggestap. Dit is toe dat die twee slagoffers besluit om maak nie saak wat nie, te vlug.
Hulle het na die bakkie gehardloop, wat hulle na ’n waghuisie geneem en hulle familie gekontak het. Dit was toe reeds 01:00 Maandagoggend.
Daar is uiteindelik R5000 uit mnr. Du Toit se rekening getrek en R3000 uit mnr. Mahlangu se rekening. Albei se skoene, selfone, mnr. Du Toit se beursie, sy bakkie en sy Garmin horlosie, is weg.
•Mnr. Du Toit sê “hoe kan jy nou die polisie vertrou?”. Hy beplan om ’n afspraak met die polisie kommissaris te maak.
Op 4 Mei 2021 berig www.mobserver.co.za:
Vrou en seun deur ‘Blouligbende’ op N12 gekaap
Terwyl ’n vrou en haar sestienjarige seun vreesbevange onder ’n kussing in hul eie voertuig moes lê na ’n kaping, het sy haar hande losgewoel om aan sy gesig te vat, om hom te kalmeer.
Gerda en Joshua (16) Toms is Vrydagaand gekaap naby die N12 afrit, nadat me. Toms hom gaan haal het by die SA Kunsaas Hengelkompetisie by Forever Resorts Loskopdam.
Hulle is omstreeks 19:40 op die N12 gekaap, deur ’n groep wat hulle voorgedoen het as polisiemanne.
Daar is meer as twee ure met hulle rondgery, waarna hulle in ’n veld afgelaai is.
Me. Toms het met haar Land Cruiser gery, want hulle moes al Joshua se kamptoerusting en hengelgerei inkry.
Hulle is omstreeks 18:00 weg en het om 19:00 die N4 bereik, op pad na Kempton Park. Sy sê dat hulle die N12 afrit geneem het en net verby die Total vulstasie was, toe sy blou ligte agter hulle opmerk en ’n polisiesirene hoor.
Me. Toms het haar venster net op ’n skrefie oopgemaak en gehoor hoe hy vra vir haar bestuurslisensie.
“My kar was in rat, sodat ek enige oomblik kon wegtrek, maar hy het my aandag afgetrek met die flitslig wat hy in die kar geskyn het.”
Terwyl hy heen en weer met die flitslig skyn, het hy gesê sy moet die kar oopsluit. “Hulle het bo-op my en Josh gespring!”
Die boosdoeners het vir Joshua uitgehaal, ’n mes teen sy keel gesit en gedreig dat hulle hom gaan skiet.
Nadat die kapers weg is, het ma en seun in die rigting geloop waar hulle voertuie hoor ry het. Hulle het in die rigting van ’n kompleks geloop, waarop daar ’n polisievoertuig uitgery gekom het.
Op 6 September 2014 berig www.mobserver.co.za:
Kol. Jannie van Tonder (Stasiekommissaris, Delmas Polisiestasie en Groepbevelvoerder) is Woensdagaand tussen eMalahleni en Vosman gekaap en het net buite Middelburg op die Bethalpad wakker geword.
Die dramatiese gebeure het Woensdag begin toe kol. Van Tonder as groepbevelvoerder polisiestasies besoek het.
Tussen Vosman en eMalahleni het kol. Van Tonder ‘n verdagte trok langs die pad opgemerk en gestop. Die presiese daaropvolgende gebeure was teen druktyd nog nie bekend nie, aangesien hy pas gevind en geskok was.
Daar is gesê dat daar kort daarna ‘n voertuig met blou ligte en mans in polisie-uniform op die toneel gestop het. Hulle was gewapen met R5 aanvalsgewere.
Die bende het sy selfoon, dienspistool en voertuig geroof en hom met ‘n wapen teen sy kop gedwing om ‘n vloeistof in te neem.
Op 23 November 2017 berig www.mobserver.co.za:
’n Trokbestuurder het met sy lewe ontsnap te danke aan ‘die Here se genade’ meen Jimmy Pretorius, eienaar van ’n vervoermaatskappy.
Die trok waarin Joas gery het toe hy deur ’n verkeerskonstabel afgetrek en gekaap is.
Joas (van onbekend) was Woensdagaand op pad na Nelspruit vanaf Johannesburg toe hy om 18:00 op die N4 by die Hendrina afrit deur ’n verkeerskonstabel afgetrek is.
Sy werkgewer, mnr. Pretorius, sê dat Joas aan hom vertel het dat daar skielik vyf mans saam met die “verkeerskonstabel” in die trok ingeklim het.
Op 4 Mei 2021 berig www.mobserver.co.za:
Bruce Engelbrecht het ’n kaper aan die nek beetgekry, maar moes sy hande magteloos laat sak, sodat hy en sy seun nie doodgeskiet word nie.
Mnr. Engelbrecht en sy seun, Bradley, is op 18 Februarie vanjaar op die N3 tussen die Villiers en Heidelberg tolhek gekaap en is vir etlike ure deur die kapers aangehou.
Hy het gehoor van me. Gerda Toms en haar seun, Joshua, wat Vrydagaand, net na die N12 afrit, deur die “blouligbende” gekaap is. Hy het haar gekontak en vertel dat ook hy vroeër vanjaar op dieselfde wyse gekaap is.
“Die man wat na my toe aangestap gekom het, was in vol polisie-uniform, met ’n pet en ’n polisie dienspistool aan sy sy. Ek ken die polisie se wapens, aangesien ek op ’n stadium ’n vuurwapen instrukteur was en baie polisie rekrute opgelei het.”
Op 26 Junie 2017 berig www.mobserver.co.za:
’n Movie? Nee, Suid-Afrika. Dit is Gangsters Paradise.
Clint Eastwood of Charles Bronson? Nee dit is die N4 hoofweg, dit is is Ridwaan Patel en dit is die blouligbende.
Patel het skaars by die Alzu Petroport uitgery toe ’n rooi Lumina SS hom beveel om stil te hou. Toe die twee mans uitklim en een bly in die kar sit het Patel geweet dit is aanvallers.
Hy het soos ’n held in ’n movie sy wapen uitgepluk en gevuur toe hy by sy venster gedreig word.
Een man het dood in die pad geval en sy makker het terug gevlug na sy kar.
Patel se ammunisie was klaar, maar dit het hom nie gestuit nie. Hy het uitgespring, die dooie rower se wapen gegryp en op die twee ander aanvallers in die kar gevuur.
Die man wat doodgeskiet is, is intussen uitgeken as ’n tronkvoël wat nie lank terug nie, vrygelaat is.
Hy is maar onlangs op parool vrygelaat.
