News

Videomateriaal wys hoe man saam met selfoondief se BMW gesleep word

Videomateriaal wys hoe ’n man ’n selfoondief agterna sit en hy in ’n BMW saamgesleep word, wanneer hy die dief uit die kar probeer trek.

Die man (wat verkies om anoniem te bly) het erge skraapwonde opgedoen, maar is dankbaar dat hy nie ernstiger beseer is of breuke opgedoen het nie.

Hy vertel hoe hy Vrydag net na 11:00 by sy werk in Gauteng afgestap het na ’n vulstasie net sowat twee blokke daarvandaan.

“Dit is ’n baie veilige area en daar het ’n paar Uber voertuie in die omgewing gestaan.” Hy was besig om musiek te luister op sy oorfone en ’n boodskap te stuur op sy selfoon en het nie agtergekom dat ’n BMW stadig by hom verby ry nie.

“Ek het ook nie notisie geneem van die man wat van voor af verby my geloop het nie.”

Op die CCTV videomateriaal kan ’n mens sien hoe die booswig by hom verbyloop, dan omspring en die selfoon uit sy hand ruk.

“Dit was blote reaksie om hom agterna te sit!”

Hy is baie fiks en het agter die selfoondief aangehardloop.

“Hy was net ’n halwe sekonde voor my en ek het hom aan die hemp beetgekry. Ek wou my selfoon terug hê!.”

Die dief het rats in die BMW gespring met die man agter hom aan.

“Ek is half saam met hom by die BMW in, maar die voertuig het begin ry.”

Met die man se hemp vasgeklem in sy hande, is hy etlike meters deur die BMW saamgesleep. Die hemp het uit sy hande gegly en hy is uit die voertuig geslinger, waarop hy hard in die pad te lande gekom het.

“Gelukkig was daar nie ander voertuie nie!”

•In hierdie selfde tyd het ’n vriendin van die man na sy selfoon toe gebel en het ’n vreemde stem geantwoord.

“Die persoon aan die ander kant het gesê: ‘I took the phone!’ en ek het besef hy is beroof!”

Sy het sy werkgewers gebel en daarvan vertel, maar voordat hulle nog enigiets kon doen, het die man ingehardloop gekom en gesê hy is beroof.

•Die man vertel dat hy verlede week op ’n besoek was aan Middelburg en iets gaan koop het by die Middelburg Mall.

“Ek moes iewers my beursie verloor het. My bankkaarte, asook werk toegangskaarte was in die beursie.” Hy was pas terug in Gauteng toe hy boodskappe op sy selfoon kry en sien dat iemand reeds geld uit sy bank probeer trek het, maar dat hulle nie kon nie, omdat die kaarte geblok is.

•Privaatondersoeker Anthony Boucher (van SA Investigations) het twee weke gelede vir die Middelburg Observer vertel van ’n groot selfoonsindikaat wat in die dorp bedrywig is.

Selfoondiewe word tussen R500 en R1 000 betaal as hulle ’n selfoon steel.

Mense dink dat hul selfone net R1 000 werd is, as dit gesteel word, omdat dit geblok word. Die sindikate haal egter gesteelde selfone binne twee ure uitmekaar en elke stukkie van die skerm tot die battery word verkoop. Hulle maak ten minste R11 220 uit die parte van selfone.

•’n Nasionale dagblad het vier dae gelede berig hoe ’n jong man in Pietermaritzburg deur twee mans aangeval is vir sy selfoon. Hy het die volgende dag aan sy beserings beswyk.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button