News

Julie het nie net ons trein blinkgevryf nie

Met stoomtreinliefhebber Julie van Rensburg se afsterwe het Ria Pienaar haar albums weer gaan deurblaai en herinneringe van jare gelede opgediep.

“My pa was die eerste en enigste drywer van die stoomlokomotief wat destyds die Rovos Rail in Witbank (nou eMalahleni) gehaak en afgesleep het tot in Waterval Boven. Elke keer het Julie hom kom help om die lokomotief blink te vryf.”

Ria, wat deesdae ’n Middelburger is, se pa, Piet Schmidt, was ’n bekende treindrywer en was 37 jaar in diens van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë.

Piet Schmidt (buite) en Martiens Strumpher (in trein) was groot vriende. Hier is hulle by die 15C – 2056 waarvan Piet die eerste en enigste drywer was.

Sy onthou hoe sy as klein dogtertjie saam is Witbank Stasie toe en dan gesien het hoe Julie haar pa help om die Klas 15C (Plaat 2056) stoomlokomotief blink te vryf.

“Tannie Julie het só hard gewerk dat my pa ’n plaatjie voorop die lokomotief aangebring het met haar naam daarop!”

Die stoker op dié stoomlokomotief was Martiens, beter bekend as Jack Strumpher en haar pa en oom Jack het goeie vriende geword.

Sy vertel trots dat ’n koerant in Pretoria donkiejare gelede ’n storie gedoen het omdat haar pa destyds die enigste persoon was wat “dit kon regkry om die stoom spierwit te laat uitkom. My pa was ’n legende op Witbank.”

•Julie, wat in die tagtigerjare ’n donkerkamer assistent by die Middelburg Observer was, is op 6 Januarie oorlede. Sy was 87 met haar afsterwe.

Sy was ’n stoomtreinliefhebber en het altyd die ou stoomtrein skitterblink geskuur, toe hy nog by die Steve Tshwete Munisipaliteit in Middelburg gestaan het.

Met haar passie vir dié trein, is daar later ’n bordjie opgesit met die naam: “Julieo” (haar naam en die O, omdat sy by die Observer gewerk het) op die trein.

Dié pragtrein staan nou voor Dros restaurant en het die “baba” geword van Johan Janse van Rensburg, wat sorg dat hy in stand gehou word.

Julie van Rensburg as jong vrou voor op die trein in eMalahleni. Sy het hom altyd help skoonmaak en het die drywer van die trein, Piet Schmidt, die plaatjie laat maak.

Dit is dieselfde Johan wat sommige mense deesdae sommer die “stasiemeester” van die Middelburg Stasie noem vandat hy die stasie gerestoureer en selfs ’n museum, koffiehuis, Pub & Grill én ’n karwas saam met sy verloofde, Liezl Prinsloo, en ander vennote oopgemaak het.

Kyk net die stoombolle! Piet Schmidt was die eerste en enigste drywer van dié stoomlokomotief wat die Rovos Rail vir toeriste vanaf eMalahleni na Waterval Boven getrek het.

 
Back to top button