Seekoeie loop al wiegend en waggelend oor pad
Middelburg se swerwende seekoeie beweeg steeds in die Klein Olifantsrivier op en af! Laat verlede week het die drietjies selfs doodluiters oor die pad geloop in Koetsstraat in Eastdene.
’n Span van die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap (MTPA) was vandag in Middelburg waar hulle die Klein Olifants gefynkam het vir die drie seekoeie.
Mnr. Ertjies Röhm (Wildbestuur, MTPA) het by www.mobserver.co.za se kantore gestop en vertel dat hulle weet waar die diere hulle bevind en hulle bewegings fyn dophou.
Op die plek waar hulle nou in die rivier uitkamp, is dit egter te gevaarlik vir mens en dier om hulle te vang. Sodra hulle opbeweeg na ’n veiliger area, sal hulle gevang word.
“Ons vra baie mooi dat die gemeenskap die seekoeie moet uitlos. As hulle per ongeluk die seekoeie sien, wil ons vra dat hulle dadelik die span van Mid Alarms sal kontak, wat op hul beurt ons sal kontak.”
Hy het verduidelik hoe dodelik gevaarlik die seekoeie is, veral die koei, omdat ’n seekoei-kalfie deel is van die groep. “Sy sal aanval en jou doodmaak as jy tussen haar en haar kalf kom. Dit is ’n resep vir moeilikheid.”
Daar was vele spekulasies oor waar die seekoeie vandaan kom.
Twee jaar gelede is ’n seekoeibul tussen Stoffberg en Dullstroom gesien en daarna is ’n seekoei-koei in een van die strate in Dullstroom gesien. Hulle vermoed dat die bul en koei by mekaar uitgekom het en nou saam ’n kalf het.
Op 9 Maart het personeel van die Rietvlei Myn op die Stoffbergpad, sowat 21km buite Middelburg, hulle gekontak en gesê dat daar twee seekoeie naby die myn gesien is. Die vermoede bestaan dat dit die bul en koei kon wees en dat die kalfie intussen in die omgewing gebore is. Hulle skat dat die kalfie by hulle sowat ’n maand oud is.
• Twee mans, wat hulle langs die rivier agter 4SAI raakgeloop het, sê hulle vang daagliks vis in die Klein Olifants in die diep gat agter 4SAI en dat hulle die seekoeie al vir drie weke in die omgewing opgemerk het.
• Mnr. Mohamed Panchcbhai sê hy het oor die naweek met sy perd op die plotte agter Eastdene gaan ry. “Ek het hulle per ongeluk in die bos gesien toe hulle weer op pad was water toe. Dit is heeltemal onbegaanbaar daar waar ek hulle gesien het. Jy kan net soontoe loop of met ’n perd ry.
• Indien enige persoon die seekoeie sien, word hulle gevra om die beheerkamer van Mid Alarms te bel by 013 243 5004.

