News

Pitbulterriër verjaag vier kapers

Vier kapers het gevlug nadat ’n pitbullterriër op hulle toegesak het!

Was dit nie vir Danny die pitbull nie, sou vier kapers die jong man waarskynlik oorrompel en sy ma ook beseer het.

Op voorwaarde van anonimiteit, het die jong man van die traumatiese gebeure by hul huis in Pleinstraat vertel.

“’n Mens is so gemaklik, jy dink nie dit sal reg voor jou huis gebeur nie!”

Hy is dankbaar dat Danny reageer het op die bevel om die kapers te takel, anders glo hy, sou dinge heeltemal anders verloop het.

Die gebeure het omstreeks 14:00 afgespeel toe die man gou winkel toe was om vir sy ma iets te gaan koop en by die hek af te laai.

“My kar was gepak om Pretoria toe te ry en my ma het my sommer by die hek gekry. Ek het die deur oopgemaak en uitgeklim om net die sigarette vir my ma te gee. Ongelukkig het ek die sleutel in die aansitter gelos, maar die hek is tog só naby!”

In die paar sekondes wat hy die sigarette vir sy ma aangegee het, het hy gehoor hoe ’n kar agter sy voertuig stop.
Hy het omgedraai en gesien hoe drie mans uit ’n maroen Opel Corsa spring en reguit op hom afstorm.

Alles het daarna baie vinnig gebeur.

Hy het ’n stukkende gaspistool, wat soos ’n wapen lyk, onder die sitplek van sy kar gehou.

Hy het na die kar gehardloop, die pistool uitgepluk en dit teen sy sy gehou dat die mans, wat na hom toe aangestorm kom, dit kon sien.
“Ek wou net hê hulle moes dink ek het ’n wapen. Ek het dit nie op hulle gerig nie, maar dit langs my sy gehou.

Die drie rowers het stadiger geloop, maar die bestuurder van die Corsa, wat nie uitgeklim het nie, het vir hom geskree; “You don’t think we have one too!”

Hy het vir sy ma geskree: “Ma, maak toe die hek en gaan in!”

Sy was egter bekommerd oor haar seun en het wel die hek toegemaak, maar aan die anderkant van die hek bly staan.
Uit die hoek van sy oog het hy opgemerk dat een van die kapers in hul eie kar na iets soek.

“Ek wou in trurat teen hulle vasry om hulle weg te hou van my ma af, maar my kar was ongelukkig in eerste rat en het ek in die klippe by ons oprit vasgery.”

Hy het weer uit sy kar gespring en vir sy ma gegil: “Maak oop die hek!”

Danny het op die bevel om aan te val nie gehuiwer nie en reguit op die kapers afgestorm.

Dit het hulle rowers in al die rigtings laat spaander, waarop hulle in hul kar gespring, die vensters oopgemaak en die jong man begin vloek het.
Hulle het ook rassistiese aanmerkings gemaak, maar nie weer uitgeklim nie, want Danny het hulle nie toegelaat nie.

Die man onthou dat die drywer, voor hulle stadig weggery het, vir hom gesis het: “We will come back!”

•Die jong man se ma het ’n foto van die maroen Corsa geneem toe hy wegry. Op een van die noodgroepe is gesê dat die registrasienommer vervals is.

 
Back to top button