Desember hoogtepunt – ’n Ware wonderwerk tussen skote wat klap
Hierdie paartjie het die ware betekenis van ’n wonderwerk midde in trauma beleef toe daar uit vier vuurwapens skote afgetrek is en nie één hulle getref het nie
‘Wonderwerk tussen skote wat klap’
Met skote wat om hul koppe klap het ‘n paartjie midde in die trauma ook ‘n wonderwerk sien gebeur.
“Ek het gewag om doogeskiet te word, want die skote het om ons geklap. Maar toe word dit ‘n getuienis toe die engele opdaag en een man oortuig om my beursie vir my terug te gee,” vertel mnr. Paul Goldschagg van die gebeure.
Mnr. Goldschagg en sy vriendin, Estie Kruger, was verlede Woensdag vanaf Johannesburg, waar hulle ‘n kerkfunksie bygewoon het, na eMalahleni op pad toe die gebeure op die N12 afgespeel het.
Net verby die Delmas afrit het sy kar iets getref. “Ek dink hulle het die baksteen of randsteen, want dit was skerp, voor my kar ingegooi, want die kar wat sowat 200m voor my was, het nie uitgeswaai nie. Hy het ook nie oor iets gery nie.”
Die volgende oomblik moes mnr. Goldschagg skerp rem want hy het besef wat hy ookal getref het, het sy regterband laat bars.
“Ek het nie vir ‘n oomblik daaraan gedink dat ons beroof gaan word nie.”
Hy het uitgeklim om die spaarwiel uit die kattebak te gaan haal. “Hulle het ons nogal kans gegee om eers uit te klim om voor te berei om die wiel te ruil.”
Me. Kruger het ook uitgeklim om die wielgereedskap te help uithaal. “Dis ‘n nuwe kar en die gereedskap was nog plastiek, so ek het aangebied om haar te help.”
Die volgende oomblik het die skote geklap.
“Alvier het skote afgetrek, ek het twee keer vier skote gehoor.”
Hy onthou hoe hy in die donker die vlammetjies uit die handwapens sien kom het.
“Ek het geskree: ”Jesus help ons!’ en het ons begin hardloop.”
Nie een van die skote het hulle getref nie, maar hulle kon nie ver hardloop nie, want een van die rowers het hom gepootjie en die ander een het Estie op die grond neer gegooi.
Die rowers, wat almal swart balaklawas en klere gedra het, het hul selfone, juwele en kontant geëis.
Een van die booswigte het probeer om mnr. Goldschagg se armketting af te haal, maar het gesukkel en hom aangesê om dit te doen.
“Ek was nog besig om dit af te haal, toe hy skielik my beursie teruggee en hulle begin hardloop. Ek glo dit is die Here wat vir ons engele gestuur het.”
Sy kar was boonop bykans leeg. “Die Here het geweet ek kon nog net 24km ry met die brandstof in my voertuig. Die man het my beursie met kaarte vir my terug gegee! Die heeltyd tydens die rooftog het ek en Estie gebid.”
•Terwyl die gebeure afgespeel het, het ‘n polisieman van die Middelburg K9-eenheid op patrollie aan die oorkantste hoofweg verby gery en onraad vermoed.
Hy het rem getrap en ‘n U-draai gemaak om die paartjie te help. Mnr. Goldschagg het hom tegemoet geloop met sy hande in die lug en verduidelik dat hulle beroof is.
Die polisielid is die bosse in om die booswigte te soek, maar hulle het die nag in verdwyn,
Van die toneel af is nog polisielede vir bystand geroep en is die wiel vir hulle geruil sodat hulle verder kon ry.
• Sowat ‘n uur later het dieselfde polisieman weer op ‘n soortgelyke toneel sowat ‘n kilometer van waar die vorige rooftog plaasgevind het, afgekom.
Insittendes van ‘n taxi het gestop om bene te rek, toe hulle deur dieselfde rowers oorval is.
Daar is op die polisieman geskiet toe hy sien wat aan die gebeur is en sy voertuig omdraai om te help.
Nie hy of sy voertuig is raakgeskiet nie en het die rowers weer die bosse in gevlug.
