News

Renostermis en koerantpapier gemeng vir vuuraansteker

Wat kry jy wanneer koerantpapier en renostermis meng? ’n Witwarm vuuraansteker!

Deon Cornelius van Ubhetyan o Africa eksperimenteer al twee jaar met sy vuuraansteker wat bestaan uit die Middelburg Observer, renostermis en ander byprodukte wat hy geheim wil hou.

Sondagaand het hy opgewonde gebel om die nuus te deel: “Hy brand al ’n halfuur lank”.

Vroeg vanoggend het hy twee vuuraanstekers op ’n tafel in die redaksiekantoor aan die brand gesteek, waar die vlamme gewys het renostermis en koerantpapier is ’n wenkombinasie.

Die finale skaafwerk aan sy projek is aan die gang, en hy hoop om dit vroeg vanjaar nog kommersieel te laat vlamvat.

In toetslopies het die minder gekompakteerde aansteker 25 minute lank gebrand, en die gekompakteerde een 31 minute lank.

Die aansteker is reukloos en maak ook nie onnodig rook nie.
Dis 100% natuurlik en omgewingvriendelik.

Sy eerste sarsie aanstekers het hy in ’n skopdopglasie saamgepars.

Hy kyk egter nou na meer aanloklike vorms, soos ’n renostervoet of horing, om die aansteker meer eg Suid-Afrikaans te maak.

Die aansteker se gebruike is so wyd dat hy ook daaraan dink om dit met natuurlike olies te meng, sodat dit lastige muskiete en vlieë weghou om die braai.

Die aanstekers sal eers net op bestelling gemaak word.

Die aansteker is die week getoets en behalwe vir ’n lont wat kan korter, is dit foutloos.

Opbrengste uit die aanstekerprojek sal uitsluitlik gebruik word vir die sorg van renoster kalfies wat weens stropery wees gelaat is.

Kostes om na wesies om te sien beloop R30 000 per maand vir onder andere melk en mediesekostes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button