News

Trok met plofbare stof slaan om voor skool

’n Tweede Boksburg-tragedie kon vanoggend plaasgevind het, toe ’n trok wat gevaarlike stowwe vervoer, meters vanaf ’n laerskool op die Stoffbergpad in ’n botsing betrokke was.

Die ongeluk, vanoggend voor Laerskool Uitkyk, het een lewe geëis en “was ’n voorval wat gewag het om te gebeur” weens die swak toestand van die Stoffbergpad.

Gemeenskapslede kla al meer as vier jaar oor die slaggate wat bloot nie aandag kry nie.

Me. Riana Oosthuizen, van Laerskool Uitkyk, sê dat ’n slaggat reg voor die skool se ingang, die oorsaak van die ongeluk was.

Die ongeluk het plaasgevind, nadat ’n bakkie met mense agterop, moes rem vir die slaggat.

Volgens ooggetuies het die trok nie net in die bakkie vasgery nie, maar is bo-oor. Een persoon is in die ongeluk dood en vier beseer.

Volgens nuwe inligting was die trok besig om ammoniumnitraat, ’n hoogs plofbare stof, te vervoer.
Die trok se vrag het ook op die toneel uitgelek.

Volgens die trok se plakaatnommer, het die vrag bestaan van ammoniumnitraat, ’n hoogs plofbare stof.

Riana sê gelukkig het hulle leerders reeds by die saal aangetree, toe die ongeluk gebeur het.

“Gelukkig het ons kinders dit nie gesien nie, maar heelwat ouers was besig om die terrein te verlaat. Dit was vir hulle traumaties en hulle is met goeie rede bekommerd oor hulle kinders.”

Riana vertel ook dat hulle geweldig gespook het om die Polisie in die hande te kry, “ons het toe ’n reaksiemag op Middelburg gebel, wat dit kon regkry om die polisie, ambulanse en ’n maatskappy wat gevaarlike stowwe opruim, te ontbied.”

Me. Mari Bosch, ’n ouer by Laerskool Uitkyk, het die ongeluk sien gebeur.

“Ek het die kinders by die skool afgelaai en was op pad huistoe, toe dit plaasvind.”

Haar weergawe stem ooreen met die van Riana.

“Dit het so vinnig gebeur, maar die bakkie het gerem vir die slaggat toe die trok in hom vasry. Hulle was dalk te naby aan mekaar vir die trok om behoorlik te rem, maar die slaggat is beslis die oorsaak van hierdie ongeluk.”

•Die Boksburg-tragedie het 36 lewens geëis, nadat ’n gastenkwa wat onder ’n brug vasgesit het, ontplof het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button