Byna ’n week sonder krag – inwoners vervang self foutiewe kabel
Sommige Machadodorp inwoners was ’n volle week sonder krag.
Mnr. Hannes Botha sê hy en twee bure in Rivierstraat was sedert verlede Donderdag sonder krag en dat hulle maar self moes inspring om die krag te herstel.
Die krag het Dinsdag die week weer aangekom nadat ’n plaaslike elektrisiën, Leon Calitz, hulle genadiglik bygestaan het om ’n foutiewe kabel te vervang.
Die munisipaliteit was glo onwillig om te help en selfs versoeke deur DA raadslid Didi Hepburn is geïgnoreer.
Mnr. Botha sê teen Sondag moes hy van sy vleis weggooi, waarna hy ’n kragopwekker bekom het om net sy yskas en vrieskas aan die gang te hou.
Mnr. Calitz het ondersoek ingestel en bevind dat daar geen krag na drie huise toe gelei word nie.
Mnr. Calitz het self Middelburg toe gery om ’n nuwe kabel en toerusting te kom haal, nadat hulle Sondag op die eintlike probleem afgekom het.
Pikke en grawe is ingespan om ’n nabygeleë kragkabel oop te grou.
“Die kabel was in ’n vreeslike toestand, plek-plek gelas en dit was duidelik dat hy ook al verskeie maal gebrand het,” sê mnr. Botha.
Nadat die kabel met groot moeite vervang is, is kragtoevoer Dinsdag na die huise herstel.
“Ons munisipaliteit beteken absoluut niks, die verval van Belfast en Machadodorp stoom onverpoosd voort,” sê mnr. Botha.
Oproepe na die Emakhazeni Munisipaliteit was vrugteloos omdat niemand kan sê wie die media te woord kan staan nie.
Die Middelburg Observer het al vantevore ook geen reaksie uit die munisipaliteit gekry weens voortslepende diensonderbrekings nie.