News

Willemans het glo eensame bejaarde vroue geteiken

Talle los drade moet steeds saamgevoeg word in die opspraakwekkende beweerde web van bedrog wat landwyd deur Michael Jacobus Willemans gepleeg is, insluitende Middelburg.

Hy het die polisie bykans drie jaar ontduik en kon telkemale daarin slaag om net betyds te vlug, voordat hy aangekeer is.

Willemans is Maandag in Rynfield, Benoni, vasgetrek weens puik ondesoekwerk deur die Welkom polisie, Anti-Hijacking and Policing SA en CJ-ondersoekers.
Beide Anti-Hijacking and Policing SA en CJ-ondersoekers het die afgelope drie jaar onverpoosd leidrade opgevolg, wat tot Maandag se deurbraak gelei het.

Mnr. Marius Cloete van Anti-Hijacking and Policing SA sê dat Willemans verstom was toe hy eindelik vasgetrek is in ’n meenthuiskompleks.

“Hy het hard aan sy sigaret geteug,” sê mnr. Cloete, wat bylas dat daar geen wegkomkans was vir Willemans die keer nie.

“Ons het blitsig op hom toegesak, dit was tien sekondes van die hek tot by hom op die bank in die meenthuis,” sê mnr. Cloete verlig.

’n Sterk vermoede bestaan dat Willemans elke keer as die polisie op sy spoor is kon wegkom, weens nabye kontakte in die polisie.
Van sy eie familielede dra glo polisie uniform.

Mnr. Cloete sê Willemans se spoor van bedrog lê landwyd, met sake in Middelburg wat ook nou by die dik dossier gevoeg sal word.

Sy modus operandi was om enkel en bejaarde vroue op sosiale media te bevriend en hulle dan uit geld, en selfs voertuie, te bedrieg.

Hy het ook as motorwerktuigkundige gewerk, waar hy homself glo voorgedoen het as eienaar van die besighede en so voertuie verkoop en die geld in sy eie sak gedruk.

Honderde duisende rande en besittings is na bewering deur Willemans by eensame vroue gesteel.
Hy het verskeie aliase gehad en gereeld ’n nuwe identiteit aangeneem.

Sodra die polisie op sy spoor was, het hy na ander dorpe gevlug en ’n nuwe identiteit aangeneem.

“Ek glo nie daar is ’n naam wat nog nie deur hom gebruik is om vroue uit geld te swendel nie,” sê mnr. Cloete.

Hy het Woensdag in die hof op Benoni verskyn.

Daar is tans sowat 15 sake landwyd wat reeds aanhangig teen hom gemaak is, meer klagtes word verwag noudat hy vasgetrek is.

Volgens mnr. Cloete word daar nou daaraan gewerk om al die sake saam te voeg.

Sodra die dossier voltooi is, sal meer duidelikheid oor die individuele klagtes teen hom verkry word, insluitende die Middelburg sake.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button