Reuseskade by Fountain Corner waar “berserkte aanvaller armageddon wou saai”
Besigheidseienaars by Fountain Corner kom nog tot verhaal na gistermiddag se petrolbomaanvalle op Jud'sies en die Horlosie Kliniek, waar daar ook verskeie skote op omstanders afgevuur is.

Die man, wie se verkoolde liggaam in sy besigheid, Horlosie Kliniek, gevind is, is intussen geïdentifiseer as Willie Bester.
Reuseskade is aan die hele gebou aangerig nadat mnr. Bester minstens drie petrolbomme na Kappie en Judy-May Kapp in hul winkel, Jud’sies, gegooi het.
Minstens ses ksote is ook deur Bester op die egpaar afgevuur voordat hy sy eie voertuig op die laaisone voor Azalea Bloemiste met ’n petrolbom bestook, en sy eie winkel daarna aan die brand gesteek het.
Naas Jud’sies wat erge brandskade weens die petrolbomme opgedoen het, het Azalea Bloemiste en tandarts Rassie Erasmus se spreekkamers, beide reg langsaan die Horlosie Kliniek, ook rookskade.
Me. Marita Hatting van Azalea Bloemiste sê dat sy in die winkel deur Bester gekonfronteer is en hy vir haar geskreeu het “vandag skiet ek jou vrek”.
Sy het haar oë gesluit en biddend by Bester gesoebat om haar en haar helper Selina Nkosi nie te skiet nie.Toe sy haar oë weer opmaak was hy weg.
Daarna het ’n ontploffing die gebou geskud.
“Ek sal die kyk in sy oë nooit vergeet nie, hy wou die gebou grond toe bring, dit was soos armageddon,” sê me. Hatting.
Daar word vermoed dat mnr. Bester die boonste kantoor in sy winkel eers aan die brand gesteek het voordat hy ook petrolbomme onder in die winkel gegooi het.
Petrolbomme gegooi, skote klap, een sterf by Fountain Corner
Ooggetuies sê dat dit wil voorkom asof hy uit die brandende winkel wou vlug, maar dat iets moontlik op hom geval het, waarna sy liggaam deur die vlamme verswelg is.
Sy liggaam is heel voor in die winkel langs die toonbank gevind.
Hy was onherkenbaar verbrand.
Jud’sies was vandag toe terwyl me. Hatting en dr. Erasmus se kamers steeds probeer sinmaak het van die aanval.
Daar word nou gewag op assessors om die presiese skade te bepaal.
Die brand het beslis skade aan die sentrum se dak veroorsaak wat na beide die spreekkamers en Azalea Bloemiste strek.