Inbreker los bloedspoor na strooptog
Skade wat inbrekers agterlaat die rede dat besigheid sluit.

’n Inbreker het ’n bloedspoor agtergelaat nadat hy twee keer sedert Saterdag by ’n besigheid ingebreek het.
Die booswig het verlede Saterdag die slot van die Wendyhuis, waar die Kiosk bedryf word, oopgebreek en die kiosk van bykans alles van waarde gestroop. Woensdag het hy die dak oopforseer en die res kom haal.
Me. Rozllin Cousins bedryf die Hippo Kiosk langs die Hippo Karwas in Cowen Ntulistraat.
Sy het omgekrap gesê dat sy nou haar besigheid moet toemaak net etlike dae nadat sy dit weer amptelik oopgemaak het, omdat bykans alles in die kiosk gesteel is.
Me. Cousins het die kiosk vir meer as ’n jaar bedryf en vir sowat vier maande toegemaak.

Verlede Vrydag het sy weer die gewilde wegneem-ete kiosk oopgemaak en het die inbraak Saterdag gevolg.
Na die inbraak het hulle sterker slotte opgesit.
Woensdag in die vroeë oggendure het die booswig teruggekeer en gepeuter by die slotte, maar kon dit nie oopkry nie.
Daarna het hy die Wendyhuis aan die kant probeer oopbreek, maar daar was ekstra versterkings aan die binnekant en kon hy steeds nie in nie.
Hy het egter die sinkdak, waarskynlik met iets soos ’n kantsnyer, oopforseer en ingeklouter.
Me. Cousins vermoed hy het hom met die stukkende sinke gesny toe hy inklim of dalk in die kiosk ingeval en hom toe teen iets gesny, want daar is oral bloedspatsels gekry.
• Die inbreker of inbrekers het tydens die twee inbrake weg gekom met die gasbottel en al die toerusting wat gebruik word om die kiosk te bedryf.
Met Woensdag se inbraak het hulle alles verder van waarde gevat.
Dit blyk dat hulle ’n pak lekkers ook wou vat terwyl hy of hulle weer deur die dag wou uit, maar dit het geval en is daar op die pak lekkers ook bloed gekry.
• Me. Cousins sê hulle het Woensdag om 05:24 van hul alarmbesigheid af ’n boodskap gekry dat die alarm afgegaan het. Dit moes die tyd gewees het toe hulle ingebreek het.
