News

Crooks Corner se strukture “doelbewus vernietig”

Min oor van Portugees John Fernandes se winkel

Na twee weke se opgrawings het die berugte Crooks Corner in die Nasionale Kruger Wildtuin, ’n deel van sy geheime openbaar.
Professor Anton C. van Vollenhoven DPhil (Argeologie) DPhil (Geskiedenis) het die afgelope twee weke navorsing en opgrawings in die gebied gedoen.

Professor Anton C. van Vollenhoven het die afgelope twee weke navorsing en opgrawings in die Crooks Corner gebied gedoen. FOTO: Verskaf.

Voor 22 Mei 2026 het min mense geweet van Crooks Corner.
Na die moord op Dina (73) en Ernst Marais (71), van Mosselbaai, op 22 Mei, is die gebied wêreldbekend.
Hulle liggame is met verskeie steekwonde in die Levubu-rivier gekry en drie mans is vir die moorde aangekeer.

Professor Van Vollenhoven sê dit blyk dat daar nie veel oor is van John Fernandez se winkel nie, omdat die terrein sedert 1966 deur die Suid-Afrikaanse Polisie gebruik is.

Verskeie stukke sement, metaal en bakstene wat rondlê

“Die meerderheid oorblyfsels dateer uit die polisietydperk, maar dit blyk dat selfs hierdie strukture later jare doelbewus vernietig is. Gevolglik is daar verskeie stukke sement, metaal en bakstene wat rondlê, waarvan sommige opgegrawe is en die fondamente wel gevind kon word.”Die ‘winkel’ lyk my is hergebruik en moontlik is daar slegs ’n sementvloer van die oorspronklike oor, wat erg verweer is.”

Middelburg Erfenisvereniging

Dr Kobus Terblanche van die Middelburg Erfenisvereniging was deel van die span.
Hy en ’n span van 12 mense het die opgrawings in die noordoostelike deel van die die Nasionale Kruger Wildtuin gedoen.

Professor Van Vollenhoven se Archaetnos Argeoloë – konsultasie maatskappy, doen al vir meer as 20 jaar navorsing in die wildtuin.

So word daar opgrawings en navorsing by Crooks Corner gedoen. FOTO: Verskaf.

Crooks Corner is ’n area waar onwettige olifantjagters hulle tuis gemaak het in die 1910-1930’s. Dit was ’n maklike wegkruipplek want paaie was tweespoor ossewapaaie en omdat dit die plek is waar drie lande bymekaarkom, was dit maklik om oor die grens te beweeg, sodat jy nie gearresteer word nie.

Die bekende olifantjagter, Cecil (Bvakenya) Barnard, is die bekendste persoon van daar. Ander is William Pye, William Hartmann, Considine, Lumley, Alex Thompson, John Fernandez, Monty Ash en Buck Buchanan.

Deur Malulekes bewoon

Die terrein waar die span gewerk het, was een van die Portugees, John Fernandez, se winkels. Die omliggende terrein, wat almal deel van die groter Crooks Corner is, is wel deur ander groepe soos die Malulekes bewoon.

Die terrein waar die Portugees, John Fernandes, se winkel was. FOTO: Verskaf.

“Die doel van die navorsing is om meer oor die lewenswyse van die inwoners van Crooks Corner vas te stel. Dit is ’n tydperk wat strek van ongeveer 1910-1960. Oorblyfsels van strukture en voorwerpe gee ’n idee van hulle gebruikersgoedere en kos. Daaruit kan ons die omstandighede waaronder hulle hul bevind het vasstel. In die proses word ’n rekonstruksie van hulle lewenswyse gemaak. Dit maak dat inligting opgeteken word, voor dit moontlik verlore raak en dit kan ook help met beplanning rondom toerisme – wat kan mens met die terreine doen en kan dit toeganklik gemaak word vir toeriste.”

Terreine uit die Steen- en Ystertydperk

Die projek het reeds in 2021 begin toe dié buitengewone professor in geskiedenis en ’n span deur die area gestap het om die terrein te dokumenteer. Benewens historiese terreine is daar ook terreine uit die Steen- en Ystertydperk, maar sy navorsing fokus nie hierop nie.

Die winkel van Borchers

Professor Van Vollenhoven het reeds Thompson se winkel (Makuleke) en die kampterrein van Considine en Lumley opgegrawe. Hierdie jaar was dit Fernandez se winkel by Crooks Corner. Later gaan hy die ander winkel by Pafuri asook die winkel van Borchers doen.

Dr Terblanche sê sy tyd saam met die span was “baie interessant”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button