News

Oor en weer skietery klink soos klein oorloggie

’n ‘Oorlog’ met handwapens en groot kaliber gewere het laasnag kort na middernag in die omgewing van Kanonkop uitgebreek.

Mnr. Christo Grobler, wat in Renosterstraat bly, is net na middernag gewek deur die skietery.

“Dit was beslis nie waarskuwingskote nie! Wie ookal geskiet het, het oor en weer op mekaar geskiet. Op ’n stadium het ek ook die polisiesirene gehoor en het die sirene snaaks geklink. So asof dit raakgeskiet is!”

Bang dat daar dalk opslagkoeëls kan wees en iemand kan tref, het hy aanvanklik in die huis gebly.

Toe dit stil raak, het hy buite gaan staan en gesien dat daar twee polisievoertuie op die hoek van Renoster- en die Stoffbergpad staan.

Op ’n stadium het een in die rigting van die Stoffbergpad gejaag en die ander een het in die dorp se rigting gery.
Daarna het dit stil geraak.

•Rdl. Johann Dyason, wat in Oleanderstraat bly, is ook wakker geruk met die geweerskote.

“Ek het mense hoor skree en praat en het vinnig aangetrek en is na buite.”

Hy het van boom tot boom in die straat gesluip vir sy eie veiligheid en rondgekyk, maar kon niks sien nie.

“Dit was baie duidelik geweerskote. Dit het soos die wilde weste geklink!”

•Lede van die Middelburg Dagpatrollie het ook op die groep gesê dat hulle die geweerskote hoor.
Een man het genoem dat hy ook vanaf Springbokstraat die polisievoertuie sien.

•Mnr. Arthur Hill (Middelburg Dagpatrollie) het die oomblik toe die lede meld dat hulle geweerskote hoor, soontoe gejaag.

“Ons lede het heen en weer in die strate gery om te kyk of ons enigiets sien, maar buiten die polisievoertuie wat daar gestaan het, kon ons niks anders kry nie.”

Mnr. Hill sê dat hy tot 02:00 rondgery het om te kyk of alles veilig was, maar dat daar nie daarna enige ander voorvalle was nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button