Redakteur betrap diewe wat gesteelde items in kar laai
Hy het foto’s geneem en mnr. Arthur Hill (Dagpatrollie) gebel, wat dadelik soontoe gejaag het.
Duur luidsprekers en waaiers is by die Sewendedag Adventiste Kerk gesteel.
Mnr. Jan Botha (ouderling) het die artikels wat die Dagpatrollie teruggekry het, by die Middelburg Observer kantore kom afhaal.
Met sy aankoms by die kerk vanoggend, het ’n skok op hom gewag, toe hy sien watter skade die inbrekers aangerig het.
“Hulle moes gisteraand teruggekom het, nadat ons alles weer gesluit het toe hulle die eerste keer daar was,” sê mnr. Botha.
Leraar Jan du Toit het mnr. Botha net na 20:00 gebel en gesê die hekke by die ingang is oop en hy is bekommerd dat daar ingebreek is.
Mnr. Botha en sy seun Iaan, het hulle na die kerk gehaas en gaan kyk of daar enige skade is.

“Ons vermoed hulle is op heter daad betrap, want die klaskamer se deur was reeds oopgebreek en die kerk se handvatsel beskadig.”
Hulle het in die kerk ingegaan en gesien dat daar gelukkig nog niks gesteel is nie.
Die drie mans het daarna ál die waardevolle artikels, soos kameras, die kragopwekker en ander toerusting in die inloopkluis ingedra en gesluit.”
Hulle het ook in die area gaan rondry om seker te maak daar is nie nog gure karakters in die omgewing nie.
“Ons het nie gedink dat hulle sal terugkom nie,” sê hy vies.
Vroeg vanoggend het die redakteur van die Middelburg Observer, Tobie van den Bergh, naby ons kantore ’n voertuig sien staan. Twee mans het uit die veld uit artikels in ’n kattebak van ’n kar gelaai.
Hy het foto’s geneem en mnr. Arthur Hill (Dagpatrollie) gebel, wat dadelik soontoe gejaag het.
Die verdagte voertuig was reeds weg, maar hy het inligting opgevolg tot by ’n huis, waar daar vir hom twee luidsprekers gegee is, wat gesteel is.
Die inligting het hom ook teruggelei na die veld, waar hy twee groot waaiers gekry het.
Hy het deur middel van bronne uitgevind dat die luidsprekers en waaiers laasnag by die Sewendedag Adventiste Kerk gesteel is en daar in die veld agtergelaat is om later te kom haal.
Mnr. Botha het sy dank uitgespreek teenoor die Dagpatrollie vir hul vinnige optrede.
• Alhoewel alles wat gesteel is, teruggekry is, het die inbrekers groot skade agtergelaat.
Die elektriese omheining is platgetrap om toegang tot die perseel te kry.
Daarna is ’n venster gebreek om by die luidsprekers en waaiers uit te kom. “Dit is omtrent al wat ons in die kerk gelos het,” sê mnr. Botha.
Die kaste, waarin rekenaars (wat gelukkig gisteraand gebêre is) was en selfs die leraar se houtkassie langs die kateder, is oopgebreek.
In die ander kantore en kombuis is ook kaste oopgeruk en alles uitgegooi om na waardevolle artikels te soek.
Een van die lang kabels wat saam met die kamera- en klanktoerusting gebruik word, het die booswigte ook geruk tot dit breek, maar nie een van die kabels is gesteel nie.
