Man kan gebruik van hande verloor na pit bulterriër-aanval
Pleitdooi vir fondse dat man hande weer sal kan gebruik
Die man wat Sondag deur sy eie pit bulterriër by sy huis aangeval is, moet vandag ’n noodoperasie ondergaan om albei sy hande te probeer red.
Hein Janse van Rensburg word vandag om 12:00 geopereer en sy gesin moet R70 000 bymekaar kry om die operasie te betaal, aangesien hy nie ’n mediese fonds het nie.
Word die operasie nié gedoen nie, is die kanse goed dat hy die gebruik van albei sy hande sal verloor.
Die gesin se geliefde hond, Rocky, het Sondag omstreeks 18:00 skielik beserk geraak in die huis en Hein moes ’n sitkamertafel tussen hulle en die hond hou, dat hy nie sy vrou, Zania, byt nie.
Rocky is na buite, waar hy die ander kleiner hond, wat altyd saam met hom gespeel het, uitmekaar geskeur het.
Na ’n ruk het dit gelyk of hy kalmeer en is Hein na buite om vir familie en vriende, wat in hul karre buite gewag het, te sê dat hulle kan inkom.
Lees ook:
Rocky het egter op hom afgestorm, plat gespring en dadelik Hein se gesig en nek probeer byt.
Om te keer dat die hond hom aan die keel beetkry, het hy eers met sy linkerhand probeer keer, maar Rocky het sy hand beetgekry en begin ruk en pluk.
Hein het ook sy regterhand in die hond se kaak probeer druk, maar die seunuwees is uit die hand geruk.
Buiten erge senuweskade aan sy hande, is daar ’n gedeelte van sy een hand se vleis weggeskeur van die been.
’n Vriend en sy swaer het op hierdie tydstip hul eie lewens in gevaar gestel, uit hul voertuie gespring en die hond van agter af begin wurg om Hein te los.
Nadat die hond in ’n effense beswyming was, is hy weg gevat en na wat verneem word na ’n plaas geneem waar hy uitgesit is.
• Hein wou aanvanklik net hulp hê met wondsorg, maar ’n spesialis het sy hande gister ondersoek en gesê dat hulle vandag sal moet opereer om sy hande te red.
Die familie sê enige bydraes sal waardeer word.
“Al kan jy net R10, R20 of R100 bydra, álles sal waardeer word!”
• Persone wat bydraes wil lewer kan Zania bel by 079 183 1059.
