News

Beserkte pit bulterriër keer gesin in huis vas

’n Pit bulterriër wat beserker geraak het, het eers ’n klein hondjie verskeur en daarna ’n man aangeval.

Was dit nie vir twee mans wat vir Rocky, die gesin se liefling pit bulterriër van agteraf om sy nek beetgekry en begin wurg het nie, sou hy sy eienaar waarskynlik doodgebyt het.

Met verbande en warm kombersies om beide se hande vir die pyn, probeer Hein Janse van Rensburg (33) steeds sin maak uit die gebeure van gister.
Hy kon nie keer toe sy hond op hom afstorm en hom onderstebo spring nie.

“Met die force waarmee hy gespring het, het ek op my rug geval. Hy het gekom vir my gesig en ek het met my regterhand probeer keer, maar hy het my aan die hand beetgekry en begin ruk en skud. Hy was op my bors en ek het my linkerhand in sy bek probeer druk, maar hy het die senuwees uit my handpalm uitgeruk. Was dit nie vir my vriend en my swaer wat hom van agter om sy nek beetgekry het nie, sou hy my doodgebyt het.”

Hein sê dat Rocky altyd by sy seuns op die beddens geslaap het en maats was met die ander honde op die erf.

Drie weke gelede het hy skielik die een hondjie gebyt en hulle was bekommerd daaroor.
Hulle het hom twee weke gelede laat steriliseer.

Zania, sy vrou, was gister besig om die stukkende plekkie op die een hond te dokter en Rocky het langs haar gesit.
Hul jaaroue babaseuntjie, Heinrich, het by haar gestaan.

Terwyl sy die stukkende plek skoongemaak het op die hondjie, het daar sweersel gekom uit die plekkie waar die hondjie gebyt is en haar stem het effens opgegaan toe sy sê: “daar kom alles nou uit.”

Hulle weet nie of dit moontlik vir Rocky vreemd laat reageer het nie.

“Rocky het dadelik vir Zania gegaan en ek het die sitkamertafeltjie gegryp en tussen ons gehou,” vertel Hein.

Die hond was uiters aggressief en met die tafeltjie tussen hom en die hond, het Hein Rocky weg gestoot van hulle en het die hond by die voordeur uitgegaan.
Dieselfde oomblik toe hy by die deur uitgaan, het hy hom toegespits op hul hondjie, Cheeky.

“Hy en Cheeky het saam grootgeword, maar hy het haar gegryp en binne sekondes uitmekaar geskeur.”

Hein sê hul vriende, asook sy swaer en sy vrou het in hierdie tyd by hul huis gestop, maar hy het vir hulle gesê om nie uit hul karre te klim nie, omdat Rocky so aggressief was.
Na ’n hele ruk het Rocky egter kalmer geraak en het Hein na sy bakkie toe geloop.

“Toe ek by my bakkie kom, het Rocky my gestorm en my omgespring.”

Terwyl hy met die reuse hond gestoei en sy hande erg verskeur is, het die ander twee mans uit die bakkie gespring en Rocky van agter af beetgekry.

“Hulle het hom gewurg tot hy kalmer geword en in ’n beswyming gegaan het. As hulle dit nie gedoen het nie, weet ek nie wat sou gebeur het nie.”

Hein se ma, Rita van Straaten, sê in die tyd wat Rocky so aggressief geraak het, het Zania haar en die vier seuns in die kamers toegesluit, omdat hulle bang was Rocky kom weer op ’n manier by die huis in.

“Niemand kon uit nie en niemand anders kon inkom nie, só aggressief was Rocky.”

Hein sê daar was binne minute na die aanval talle mense op die erf en het die polisie en ’n ambulans ook opgedaag.
Hy het nie ’n mediese fonds nie en het na die gebeure hulp gekry by ’n apteek op die dorp.

“Die velle is van die been afgeskeur, so ek kan nie steke kry nie.” Hy is veral bekommerd oor sy regterhand.

Weens die krisis sonder ’n mediese fonds, is hulle senuweeagtig oor watter mediese behandeling en wondsorg hulle sal moet kry.

“As enige opgeleide persoon hom moontlik kan help met wondsorg, sal ons dit waardeer. Hy kan weens die beserings ook nou nie werk nie,” sê me. Van Straaten.

Hein is die eienaar van Reaper Insleepdienste.

Indien iemand wil help, bel Zania by 079 183 1059.

• Die gesin weet nie wie Rocky weg gevat en of hy vankant gemaak is nie. Die joernalis het vanoggend verneem dat die hond na ’n plaas geneem en daar uitgesit is.

• Hulle het Rocky se optrede met ’n veearts bespreek en gevra of die hond nie dalk hondsdolheid opgedoen het nie. Rocky se inentings was egter op datum en na etlike vrae deur die veearts is die moontlikheid van hondsdolheid uitgeskakel.

Hulle het geen antwoorde oor wat die hond tot aanval laat oorgaan het nie.

• Me. Van Straaten het gemeld dat sy altyd ’n kampvegter vir pit bulterriërs was, “maar hierna voel ek heeltemal anders! Rocky was altyd liefdevol en het by die kinders geslaap en hulle opgepas. Klein Heinrich was by sy ma toe Rocky mal begin word het. Gelukkig het hy nie vir hom gegaan nie!”

Back to top button