Dief in spore gestuit
Met die blitsige samewerking tussen vier reaksiebeamptes van Mid Alarms, is alle items wat Sondag uit ’n erf in Vaalbank gesteel is, teruggekry.
Mnr. Johan Oberholzer (Operasionele bestuurder, Mid Alarms) verduidelik hul beheerkamer het met Mid Alert menslike beweging opgemerk in Wattstraat (Vaalbank).
Reaksielid Jan van Staden is uit na die toneel en sy kollega, Albert Muller, is saam vir bystand.
Die beheerkamer het vir hulle gesê dat die kameras wys dat die verdagte besig is om die gesteelde goedere oor ’n muur te gooi in Zuidstraat, by die treinspoor.
Hulle het dadelik na die treinspoor eggaan, waar die verdagte hulle gewaar, die gesteelde artikels neergesmyt en terug gehardloop het in Wattstraat se rigting.
Die twee reaksielede het hul kollegas, Richard Bredenhann en Pieter Roux, laat weet om die booswig in Wattstraat te blok, terwyl hulle die gesteelde artikels opgelaai het.
Al vier die lede het die area gefynkam, waarna hulle hom in die bosse in die veld gevind het.
• Die persoon wie se goed gesteel is, het hulle daar ontmoet. Hy was baie bly om alles terug te kry en wou nie ’n saak open by die polisie nie.
• ’n Verdagte kan nie gearresteer en voor die hof gedaag word as die slagoffers van die misdaad nie ’n saak wil maak nie.
