Wat is die ergste? Vier woelwaters of vier woelwaters plus Comrades?
Waarom hardloop jy nie die Comrades nie? “Ek het nie tyd nie!”

Maar hoe kry ’n jong ouerpaar met vier woelwater seuns dit dan reg om nie net die Comrades aan te durf nie, maar ook te voltooi?
En by dit alles hardloop die besige Mamma nog vir Pappa weg!
Nadia (42) en Zander (45) Claassens laat die fyn balans van werk, ouerskap en ’n streng oefenprogram, maklik lyk.
Die paartjie het Sondag die 87 kilometer Comrades marathon voltooi as ywerige lede van die Middelburg Marathon Klub.
Nadia vertel dat hulle graag die wedloop elke jaar aandurf, al het Covid-19 se onderbrekings en swangerskap beteken dat sy soms van die kantlyn af moes ondersteun.
Hierdie jaar se marathon was Zander se vyfde en Nadia se vierde, en hulle het dit klaar gemaak met ’n tyd van 11:46 en 10:58 onderskeidelik.
Met vier kinders en die bestuur van twee Spec Savers-praktyke, sê Nadia dat dit nie altyd so maklik is om alles in te pas nie.
“Ons maak beurte om vir lang afstande te oefen en druk gereeld op die knoppie van ons ouers om kinders op te pas.”
Die egpaar se vier kinders, Xuan (14), Henco (10), Roux (8) en Zion (20 maande) toon self ook belangstelling in sport, maar is nog almal te jonk om aan langafstande deel te neem.
Volgens Nadia kom Zander uit ’n draf familie – en die twee het besluit om die sport saam te takel.
“Ons moet fiks en gesond bly sodat ons ons kinders groot kan kry,” het sy laggend vertel.
• Nadia werk as optometris by die Spec Savers-praktyk in die Middelburg Mall, maar sy en haar man bestuur beide praktyke.
Zander se oom, Albertyn Claassens was self ’n skitterende Comrades atleet van Middelburg Marathon Klub, en het een jaar 99ste geëindig.
•Om die uitslae van Middelburg se Comrades atlete te kry, koop hierdie week se uitgawe van die Middelburg Observer wat vandag op straat is.
