Ongeluk verander vrou se hele lewe
Esré Els se hele lewe het op 25 Maart 2022 onherroepelik verander toe ’n voertuig in haar vasgery en sy die normale gebruik van haar voet verloor en ook heeltyd pyn in haar been, enkel en knie het.

“Ek leef van pynpille wat my siek maak, ek kan nêrens heen gaan nie, want ek kan nie bestuur nie en nou moet ek ook na ’n hoër plan op my mediese fonds gaan, want my huidige plan gaan nie die volgende prosedure betaal nie.”
Esré sal die aand se gebeure nie vergeet nie. Sy het het van die brug afgery gekom in Van der Merwestraat.
“Die ander voertuig het van die buiteklub se kant af gekom en voor my ingejaag. Ons albei se bakkies was afgeskryf. Ek is só hard in my baan getref dat my bakkie teruggedruk is tot amper teen die sypaadjie.”
Na die ongeluk en het die ambulansmanne haar en die ander bestuurder ondersoek.
Omdat hulle so lank vir die verkeer en polisie gewag het, het hulle self foto’s geneem en na ‘n ruk self hospitaal toe gery.
Haar enkel was so erg gebreek dat sy eers twee weke later weens swelling ‘n operasie kon kry om staalplate in te sit.

Esré se probleme was egter nie op ’n end nie. Sy het aanmekaar infeksie in die been gekry en het die een na die ander doktersafspraak en sakke vol medikasie gevolg.
“My hele lewe het tot stilstand gekom. Ek kon nie meer my stiefkind rondry nie en selfs nie eers my dogtertjie skooltoe vat en gaan haal nie. Ek sit tussen die vier mure van my huis. Ons kan ook nie bekostig om weer ’n bakkie van dieselfde kwaliteit te koop nie.,”
’n Onlangse besoek aan die dokter het nóg verdoemende nuus gebring, dat die staalplate uitgehaal en haar voet styf gemaak moet word. Die kussinkies is weggevreet as gevolg van post traumatiese arthritis.
Haar suster, Lelanie Venter, sê dit is vir haar hartverskeurend om te sien hoe haar eens opgewekte, onafhanklike sussie so moet sukkel.

“Esré se man moet nou afvat by die werk om hul negejarige dogtertjie by die skool te gaan aflaai en weer te gaan haal. Hul kind kan ook nie aan sport deelneem nie, want Esré kan haar nie gaan op- of aflaai vir ander aktiwiteite nie.”
Lelanie onhou dat haar sussie ook baie onafhanklik was, maar nou afhanklik is van elke dingetjie wat sy moet doen.
“Dit is so traumaties vir Esré, haar gesin en vir ons. Daardie jong man gaan aan met sy lewe asof daar niks gebeur het nie. Daar is net niks aan hierdie saak gedoen nie.”
• Esé het by talle geleenthede by die ondersoekbeampte navraag gedoen oor wat met die saak gebeur. Tot vandag toe weet sy nie wat met die ondersoek aan die gang is nie.
• Die polisie se provinsiale mediakantoor het bevestig dat Esré se verklaring oor die ongeluk tot op hede nog nie geneem is nie. Daar is gesê dat die ondersoekbeampte verlede week met verlof was en beloof dat hy voor die einde van die week haar verklaring sal kom neem. Teen Donderdagmiddag 13:00 was sy nog nie gekontak nie.”
