Fiesta! nadat Ford uiteindelik weggesleep is
Die motorwerktuigkundige by wie die silwer Ford Fiesta aanvanklik gestaan het voordat die voertuig net meer as vier weke gelede in Midwater Sentrum se parkeerarea afgelaai is, het goedhartiglik die Fordjie daar gaan wegsleep.

Die werktuigkundige bedryf sy besigheid van sy huis af en sê dat die eienaar van die voertuig, net bekend as Susan, die voertuig vir hom gebring het.
Hy het die werk wat die eienaar gevra het aan die voertuig gedoen, maar die vrou is die dorp uit sonder om hom te betaal, en sonder haar kar.
Die voertuig is op 2 Junie by hom afgehaal waarna dit by Midwater gelaat is.
Die werktuigkundige sê dit was beslis nie hy wat die voertuig daar gaan aflaai het nie.
Hy het goedhartiglik ingestem om die voertuig te laat verwyder.
Sy besigheid het nie skipbreuk gelei weens finansies nie, sê die werktuigkundige, wat bylas dat hy bloot weens meningsverskille met die landheer besluit het om na sy huis te skuif, waar die besigheid goed op dreef is.
Hy sê hy ken nie die eienaar nie en weet ook nie waar om haar op te spoor nie.
Die vrou is glo betrokke by dwelms en satanisme.
Die werktuigkundige sê dat die voertuig nou veilig gestoor word.
Die eienaar sal nou stoorkostes ook moet opdok om die voertuig terug te kry.
Midwater se sentrum bestuur het die werktuigkundige bedank vir sy moeite, nadat die polisie en verkeer nie die kar daar wou wegsleep nie.
