Jong fietsryer beland onder trokwiele
’n Jong verkoopsman van Buco Middelburg het Saterdag ’n erge beenbesering opgedoen nadat hy onder trokwiele beland het op die brug in Samora Machelstraat.
Mnr. Marius Stoltz (bestuurder, Buco) sê Oliver du Plessis, een van hul junior verkoopsmanne, is Saterdagmiddag kort voor 15:00 raakgery.
“Oliver is ’n fietsryfanatikus en het al die Alzu wedren ook gery. Hy het elke dag werk toe en terug gery.”
Na wat verneem word het die trok die stuurstang geruk en het Oliver onder die trokwiele beland.
Mnr. Stoltz sê dat Oliver twee ernstige femur (bobeen) breuke opgedoen het en in die Witbank Hospitaal behandel is.
Daar is egter gereël dat hy later vandag na die Life Midmed Hospitaal oorgeplaas word.
•Die ongeluk het die veiligheid van fietsryers weer onder die vergrootglas geplaas, nadat twee fietsryers die afgelope jaar doodgery is.
