Egpaar deel in opwinding van sardienloop
Middelburgers Douw en Etta Vosges is tans in KwaZulu-Natal waar hulle die afgelope week gedeel het in die groot opwinding van die jaarlikse sardienloop.
Etta het ’n rits foto’s gestuur wat sy self geneem het toe honderde mense op die Amanzimtoti hoofstrand bymekaar gekom het vir dié verskynsel.
Tussen die reeks foto’s skryf sy: “dit is ’n miernes van bedrywighede op die Toti hoofstrand. Die nette is in en dan begin die toutrek-kompetisie tussen mens en vis.”
Met laggesiggies sê een van haar boodskappe: “Dit is so exciting…en ek eet nie eers vis nie! Die gees tussen almal is fantasties!”

Sy verduidelik dat die mense wat met nette die sardiens vang, as volg te werk gaan: “Daar is ’n man in die water wat die visse dophou en sê hoe en waarheen die net getrek moet word. Hulle het nie ’n bang haar op hul koppe nie!”
• Vroeg hierdie week het sy video’s aangestuur wat op ’n WhatsApp groep, ’KZN Sardine Watch” gestuur is, wat wys hoe die haaie ook baljaar tussen die sardiens wat nog op pad is na die branders se kant toe.

“Die skoolvakansie is op pad en daar word verwag dat die sardiens in groot skole vanaf die strande te sien sal wees. Dalk is daar Middelburgers wat wil gaan kyk. Die verwagting is dat die skole sardiens sal opbeweeg teen al die kleiner strande op, vanaf ’Toti tot Hibberdine en Umtintweni gaan groot skole sardiens te sien wees!”


