Diewe steel seuntjie (7) se motorfiets
Leandrie Patterson se sewejarige seuntjie se motorfiets, ’n kragopwekker, die gesin se fietse en haar man se gereedskap, is vroeg vanoggend gesteel.
Haar babatjie het om 03:00 by hul huis in Sondagsrivierstraat wakker geword, en beide sy en haar man, Shane, het kapgeluide gehoor. Hulle bly egter op ’n besige hoek en het dit toegeskryf as lawaai wat van die straat af kom.
Dit was eers toe hulle huishulp opgedaag het, wat daar gesien is dat hulle hek van sy spoor af gelig en oop gestoot is.
“Toe my man die deur wat ons huis van die motorhuis af skei, probeer oop maak, het dit vasgesit en hy moes dit oop stamp. Toe sien ons hulle het die deur van buite af met iets probeer oop forseer.”
Die polisie is ontbied en Leandrie is vol lof vir hulle spoedige reaksie, nadat lede binne ’n halfuur by hulle huis was. Die Middelburg GPF Sektor 3.2 en 3.3 het ook bystand verleen.
“Toe ons die polisie bel het die vroueoffisier wat geantwoord het gesê dat daar by verskeie huise op die selfde manier deur die nag ingebreek is.”
Die hoeveelheid skade wat die gesin gelei het kon nog nie bepaal word nie.
• Daar is Maandag in die vroeë oggendure ook by ’n huis in Duikerstraat toegeslaan, waar drie motorfietse en een se parte gesteel is. Die selfde motorfietse is ’n paar maande voor dit ook gesteel en tydens ’n klopjag by ’n huis in die Uitkyk informele nedersetting gevind en die vermoede bestaan dat die selfde diewe terug gekeer het om hulle handewerk klaar te maak.
