Wou glo pastei koop, toe ‘gekaap’
Die man wie se voertuig Sondag in Bethal gesteel en later in ’n ongeluk net buite Middelburg betrokke was, het laat gistermiddag vertel wat gebeur het.
’n Omgekrapte mnr. Leeroy Geldenhuys sê hy glo glad nie die persoon se storie dat hy gekaap is nie.
“Hy het vertel dat hy die oggend my kar gevat het, want hy was honger en wou ’n pastei gaan koop. Volgens hom het hy by ’n stopstraat gestop, waar twee mense by hom ingespring het en hom gekaap het. Naby Middelburg het die kar gerol en het hulle weggehardloop. Maar dit is nonsens.”
Mnr. Geldenhuys, wat in Benoni woonagtig is, vertel dat hy en sy gesin (vrou en dogtertjie) die naweek by sy ouers, Johan en Frankelina (ook Babatjie genoem) Combrink, op Bethal gekuier het.
Die dertigjarige jongman, wat voorheen saam met hom in Benoni gewerk het, het saam met hulle daar gekuier. Die jongman het ook familie in Bethal.

Omstreeks 05:30 Sondag het mnr. Geldenhuys se ma hom wakker gemaak en gevra waar sy kar, ’n Renault, is.
Hy het opgevlieg en gesien sy kar staan nie meer onder die afdak nie.
“Ek het gesukkel om ’n nommer van die opsporingsmaatskappy te kry, want my selfoon en beursie, asook my vrou se handsak met alles in, was in die kar!”
Die opsporingsmaatskappy het hom omstreeks 11:00 laat weet dat hulle sy kar opgespoor het sowat 15km voor Middelburg, maar dat die kar heeltemal afgeskryf is in ’n ongeluk.
Nadat hy familie opgespoor het van die jongman, het hy verneem dat die dertigjarige per ambulans na die Middelburg Hospitaal geneem is, waar sy arm met gips gespalk is vir ’n breuk.

Mnr. Geldenhuys het verduidelik hoe die feit dat hulle nie tans ’n ekstra voertuig het nie, hul lewe omver werp.
“Ek moet met my werksvoertuig my vrou by die werk en my dogtertjie by die skool gaan aflaai. Dan moet ek weer ry om hulle te gaan haal!”
• Hy het die Renault Kwid drie jaar gelede gekoop en daar was net 45 000km op die afstandmeter.
• Hy het gemeld dat hy die jongman ’n paar jaar gelede op Bethal leer ken het en gereël het dat hy by hulle in Benoni kom werk. “Ons was voormalige werkskollegas.”
• Hy het bevestig dat hy ’n diefstal van voertuig-saak geopen het by die Bethal polisie.
Lees ook:
