News

’n Naam en van is nie net ’n geskribbel op ’n geboortesertifikaat nie…

Vier plaaslike haweloses is reeds as armlastiges in Phomolong-begraafplaas ter ruste gelê!

Hulle is begrawe sonder enige familielede langs die graf, geen diens, geen niks, hulle “identiteit” ’n grafnommer.
Vir hulle was die cliché “jy kom alleen die wêreld in, en gaan alleen die wêreld uit,” onbetwisbaar waar.

In twee onlangse gevalle kon die Middelburg Observer help om oorledenes uit te ken, en hulle geliefdes in kennis te stel van hul afsterwe, voordat hulle as armlastiges begrawe sou word.

In die eerste geval is Jannie Benadie se oorskot na meer as twee weke positief deur sy bedroefde pa Johan, uitgeken.
Jannie se liggaam is in ’n oop veld in Jeppestraat gevind.

Op sy regterskouer was ’n tatoeërmerk van ’n kruis en daar is ’n ‘M’ aan die binnekant van die arm gewees.

Die Middelburg Observer het gereël dat die tatoërmerke afgeneem en in die koerant gepubliseer word.
Dit was te danke aan die tatoeërmerke wat Jannie positief uitgeken kon word.

Lees ook:

Pa se nagmerries oor seun in lykshuis

Jannie, ook bekend as JJ was lank op straat en aan dwelms verslaaf.

Jannie was in Laerskool Koornfontein en is vandaar na die WH de Klerkskool in eMalahleni.

Te danke aan die ekstra myl wat die koerant geloop het om die jongman van 27-jaar uit te ken, kon Jannie op 3 Augustus op gepaste manier ter ruste gelê word, met sy familie om sy graf.

Pastoor Jannie Jacobs, wat aan die stuur staan van die Oorwinnaars Halfweghuis vir Dwelmverslaafde mans, het die byeenkoms gelei.

Ashley William Harris-Webster.

Weke hierna is ’n middeljarige man se liggaam hangende aan ’n bloekomboom langs die N4, reg langs die tolhek, gekry.
Hy was netjies geklee en het ook ’n sportsak by hom gehad, waarin ’n Bybel met ’n selfoonnommer gevind is.

Die nommer is geskakel en die man wat geantwoord het, het bevestig dat die liggaam wat gevind is, die van ’n man was wat die Samaritaan drie jaar gelede ’n rygeleentheid van Barberton na Nelspruit aangebied het.

Al wat hy kon onthou is dat die man se naam Ashley was en dat hy ’n dubbeldoor van gehad het.

Die koerant het kunstenaars genader en Fransie Venter het ingestem om ’n identikit van ’n foto wat op die tragiese toneel is, te teken.

Lees ook:

Relief as nomad’s family identifies him after suicide

Die identikit is deur beide die Middelburg Observer, en op aandrang ook deur Die Laevelder gepubliseer, omdat die oorledene tydens sy rygeleentheid vertel het dat hy familie in Nelspruit sou besoek.

Kort nadat die Laevelder op straat was, het familielede die Middelburg Observer geskakel en is hulle in kontak met die staatslykshuis gebring.

André van Wyk, van Roseleigh Begrafnisdienste, het ingestem om die familie behulpsaam te wees met die vervoer en verdere reëling met die verassingsdiens vir Ashley William Harris-Webster, soos hy uitgeken is deur sy bedroefde familie.

Hy was ook ’n swerwer wat los werkies gedoen het vir oorlewing.

Mnr. Harris-Webster is verlede week veras en die oorskot behoort die week aan sy bejaarde ma besorg te word.

Beide die Benadie en Harris-Webster families het die Middelburg Observer bedank vir die hulp om hul geliefdes op te spoor.

Daarom maak die koerant ’n punt daarvan om die dorp se bedelaars en dwelmverslaafdes te leer ken, want hulle is inwoners, nes die burgemeester en die befaamde prokureur of dokter…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button