Pa se nagmerries oor seun in lykshuis
Sy seun se hande, oë en hakke wat weggevreet is deur rotte, hou Johan Benadie in die nag wakker.
Johan het Vrydag sy seun, Jannie (27), in die staatslykshuis gaan uitken, nadat familie Jannie se tattoeërmerke op die Middelburg Observer se webtuiste herken het.
Lees ook:
Niks kon hom voorberei op wat hy in die lykshuis gesien het nie.
Aan die kant van sy wysvinger tot by sy duim het die rotte hom gevreet, ook sy oë en hakke.
Johan onthou die laaste keer wat hy vir Jannie gesien het, ’n maand gelede op 29 Junie toe Jannie kom vra het vir iets om te eet.
“Hy het gesê: ‘Pa ek soek ’n baadjie…’ en hy was honger…”
Johan se suster, Etretia Klopper, het vir hom iets gaan koop om te eet en is hy weer weg.
“Jannie was maar een vir die wapad,” sê Etretia.
Met trane, wat hy kort-kort met sy sakdoek afvee, vertel die bedoefde pa dat hy ’n paar dae later weer na sy seun gaan soek het.
Hy het in die dorp sy foto vir ander haweloses gewys, wat hom herken het.
“Jannie was onder almal bekend as JJ”.
Toe hy twee weke gelede die berig sien oor die man wie se oorskot in Jeppestraat gevind is, wat ’n kruis op sy arm het, was hy bekommerd, maar die beskrywing het nie sy kind gepas nie.
“Daar is gesê hy is tussen 35 en 40 jaar oud en hy is blond, maar Jannie het bruin hare.”
Hy was steeds onrustig, omdat hy net ’n dag of twee voordat Jannie in die veld gevind is, ’n vreemde oproep gekry het.
“’n Man het my om 22:30 die aand gebel en in gebroke Engels gesê: ‘ek soek R50!’ Hy het ook vir my gesê: ‘Ken jy vir MaSeven?’ waarna hy gelag en die foon doodgedruk het.”
Johan het nie veel daarvan gedink nie en sy kommer het eers begin groei nadat hy die berig gesien het oor die lyk wat gekry is.
Hy en Etretia sê dat Jannie soms vir Nigeriese dwelmhandelaars geld geskuld het.
“Ek weet nie of hulle dalk iets aan hom verkoop het wat dalk gif ingehad het of dat hulle hom gespuit het nie. Daar word gesê Jannie is aan natuurlike oorsake dood, maar ek weet nie.”
Jannie was in Laerskool Koornfontein en is vandaar na die WH de Klerkskool in eMalahleni.
“Hy was nie lank daar nie en het self besluit hy gaan die skool verlaat.”
Die spesifieke tattoeërmerk wat die familie en Johan herken het, was die naam op Jannie se binne-arm.
“Jannie het toe hy baie jonk was die meisie, Cheyenne, se naam op sy binne-arm laat tattoeër. Hulle was vir lank skoolmaats.”
Johan het erken dat Jannie “as gevolg van verkeerde maats” dwelms begin gebruik het toe hy omtrent 18 jaar oud was.
Hulle weet hy het kristal metamfetamien (straatnaam Crystal Meth) gebruik, “maar hy het gebruik wat beskikbaar was.” Etretia meld dat hy ook heroïne gespuit het.
’n Paar jaar gelede het Johan vir Jannie weggestuur vir rehabilitasie, maar hy het weggeloop en weer begin dwelms gebruik.
Verlede jaar het hulle “hom probeer uitdroog by die huis,” maar hy is net weer strate toe.
Jannie was verlede jaar ook vir drie maande in die tronk, nadat hy opgesluit is vir die diefstal van ’n selfoon.
Johan het hoop gehad dat sy seun sou skoon kom van die dwelms, want Jannie het hom belowe dat as hy uit die tronk kom, hy nie weer dwelms sal gebruik nie.
“Ek weet my kind het nie daardie selfoon gesteel nie, dit was die ander jongman en -vrou wat saam met hom was, maar Jannie het nie omgegee om die blaam vir die diefstal te dra nie. Dit was soos hy was, hy sou ander se skuld op hom neem.”
Al was sy kind op straat, weet hy dat Jannie altyd goed gemanierd was. “Hy het nooit gevra vir geld nie, hy het net altyd vir almal gevra vir iets om te eet.”
Die trane loop weer as hy en Etretia bekommerd sê dat daar eenvoudig nie fondse beskikbaar is vir ’n begrafnis of roudiens nie.
“In die toestand wat sy liggaam is, sal ons hom maar laat veras, maar ons weet nie waar die fondse vandaan gaan kom nie.”
• Johan het geen inkomste nie en bly by Etretia-hulle. Hy is vroeg hierdie jaar deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik en was aanvanklik in die Witbank Provinsiale Hospitaal en later ook in die Rob Ferreira Hospitaal in Nelspruit vir behandeling.
Etretia en haar gesin help hom sedertdien, maar dié familie is self deur erge trauma die afgelope paar maande, nadat Etretia se seun, Jaco Erasmus, op 29 April in ’n motorfietsongeluk op die Duvhapad gesterf het.
Hy was vanaf hul werkswinkel in Wichtstraat (Middelburg) op pad na sy huis by die Golden Mile Estate op die Duvhapad, toe die ongeluk gebeur het.
Lees ook:
“Ek en my ouboet huil saam oor ons kinders…” sê Etretia hartseer.
Sy wil graag soveel as moontlik vir Johan help met die reëlings vir sy seun, maar omdat hulle onlangs ook haar kind moes begrawe, is daar op hierdie stadium geen fondse beskikbaar nie.
Persone wat hulle wil ondersteun, kan Johan bel by 084 946 2425.
