Vermiste Richardsbaaier dalk in Bethal gesien
Die jong man wat twee jaar gelede in Richardsbaai verdwyn het is moontlik in Bethal en sy ma is desperaat om met hom herenig te word.
Maarten Coetzee Olckers (29) is op 21 Februarie 2021 as vermis aangemeld, maar sy ma, Thea Olckers, het onlangs ’n foto ontvang van ’n man in Middelburg wat Coetzee se beskrywing pas.
Die foto was egter te onduidelik vir Thea om die man met sekerheid uit te ken en hy dra ’n baard, wat haar seun nooit gedoen het nie.
’n Middelburg inwoner wat deur die week by ’n kragsentrale werk, Bennie Joubert, het die Middelburg Observer laat weet dat ’n man wat Coetzee se beskrywing pas hom Maandag genader het vir geld by die KFC op Bethal.
Bennie vertel dat die man se lengte, bou en gesig identies is met Coetzee se foto. Die man dra ook ’n baie groot bokbaardjie, ’n kappietop, slaapbroek en plakkies.
Bennie kan egter nie met sekerheid sê dat dit wel Coetzee is nie.
Toe Bennie die berig van Coetzee se verdwyning op Middelburg Observer se webblad raaklees, het hy Dinsdag vir Coetzee gaan soek maar kon hom nie weer opspoor nie.
Bethal inwoners word gevra om op die uitkyk vir Coetzee te wees.
Sou iemand dalk Coetzee raakloop en herken, kan hulle vir hom die geleentheid gee om Thea te skakel by 083 607 1164.
Thea woon tans in Richardsbaai en kan daarom nie self by Bethal uitkom nie.
Lees ook:
