News

‘Help my asseblief, ek wil nie op straat wees nie’

Leon Delange (48) sukkel met die straatlewe.

“Ek kan nie meer so aangaan nie. As ek nie so ’n lafaard is nie, sou ek seker al selfmoord gepleeg het, maar ek kan nie. Ek moet net blyplek en werk kry,” het hy moedeloos gesê.

Dwelmslaaf misbruik gemeenskap se goedheid

Hy bly tans in bosse naby die Middelburg Stasie en aan sy skraal liggaamsbou kan ’n mens sien dat hy nie baie kry om te eet nie.
“As ek ’n paar sent het, dan koop ek maar ’n stukkie brood.”

Leon was gewoond daaraan om te werk en vertel hy hoe hy voor die Covid-19 grendelstaat in Middelburg gewerk het.
Hy het administratiewe werk by ’n motordiensstasie gedoen.

Vir ’n ekstra inkomste het hy soms vir vriende hul kinders opgepas.

Gedurende die grendelstaat het hy sy werk verloor en is Randburg se wêreld toe.

Hy was gelukkig om werk te kry by ’n vrou in Ventersdorp waar hy haar pandjieswinkel bedryf het. Hy het ook by haar in ’n woonstel gebly.
In Februarie hierdie jaar is sy egter oorlede en het hy weer sy werk verloor.

Nadat hy lank gesukkel het om werk te kry, het hy besluit om terug te keer Middelburg toe. Sy plan was om eers by familie te bly terwyl hy werk soek.
Met sy aankoms in Middelburg, het die familie, waarmee hy lank nie kontak gehad nie, egter verhuis.

Hy weet ook nie waar die vriende nou bly wie se kinders hy op ’n stadium opgepas het nie.

“Ek het ’n B-graad in sekuriteit en moet net weer herregistreer. Ek is egter bereid om enige werk te doen. Ek kan van kombuiswerk tot loodgieters- en bouwerk doen.”
Leon weet hy moet eers werk kry, voordat hy enigiemand kan betaal om by hulle te bly.

“Ek is egter bereid om onder ’n afdak of in ’n motorhuis of buitekamer te bly en dan in die tuin te werk tot ek hulle my huur kan betaal as ek werk.”

Daar is vir hom gevra of hy dwelms gebruik en hy het gemeld dat hy op ’n stadium vir sowat ses maande kristal metamfetamien gerook het.
Hy sê hy het dit egter lankal gelos.

As hy ’n geldjie het, probeer hy ’n sigaret of twee in die hande kry.

“Asseblief, ek is bereid om enige werk te doen. Ek kan nie meer so in die bosse bly nie.”

Persone wat dalk vir hom ’n werkie het, kan ’n WhatsApp stuur na 068 757 6682. Sy WhatsApp is nie altyd aan nie, aangesien hy moet betaal om sy foon te herlaai by plekke. Hy vra dat al die besonderhede waarheen hy moet gaan vir die werk of blyplek saam op die boodskap gestuur moet word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button