Dwelmslaaf misbruik gemeenskap se goedheid
Leon de Lange, wat inwoners met sy hartseerverhaal aangegryp het, is besig om brûe te verbrand nadat hy teruggekeer het na dwelms en nou mense deur leuens mislei.
Leon (48) se hartroerende pleidooi vir “n veilige hawe en eerlike werk” het veroorsaak dat die gemeenskap hom inneem en selfs ’n werksgeleentheid aangebied het, voor hy laas jaar in Desember weer begin dwelms gebruik het.
’n Man van Kimberley het die Middelburg Observer gekontak om ander te waarsku nadat Leon hom met R1 000 ingeloop het.
Gerhard Swartz (van Kimberley) het vertel dat hy op 21 November vir Leon gekontak het na hy die berig oor hom wat werk soek op die koerant se webtuiste gelees het.
Hy het Leon jammer gekry, en R500 oorbetaal om die Kerstydperk deur te sien.
Op 23 November, het Leon hom egter terug gebel en vir nog R200 gevra sodat hy vir ’n werksonderhoud by ’n sekuriteitsfirma in eMalahleni kon gaan. Daarna het hy vir nog R200 gevra en vertel dat hy die werk gekry het, maar dat hy vir sy Psira sertifisering moet gaan en geld nodig het om by die werk te kom.
“Hy het belowe om my geld terug te betaal teen einde Desember wanneer hy sy eerste salaris ontvang,” het Gerhard vertel.
Nadat Gerhard vir lank niks by Leon gehoor het nie, het hy in Januarie hom weer probeer bel om te hoor hoe dit gaan, “sy foon het net bly lui en toe besluit ek om die sekuriteitsfirma te skakel en te vra of ek met hom kan praat.”
Volgens Gerhard het die firma laat weet dat daar geen Leon de Lange by hulle werksaam is nie.
Gerhard het toe besluit om die Koppiestraat behuisingsprojek se bestuur te kontak, waarop daar onthul is dat Leon by drie geleenthede positief getoets het vir dwelms en gevra is om die projek te verlaat.
“Ek voel net dat sy storie misleidend is en dat hy mense se goedheid misbruik!”
Die Middelburg Observer het by Louise Lee, bestuurder van Koppiestraat, bevestig dat Leon laas jaar uitgesit is nadat hy positief getoets het vir dwelms.
Volgens Louise, het Leon so ver gegaan om die projek se naam te gebruik om geld te bedel, lank nadat hy daar weg is.
“Ek dink dis goed om die gemeenskap oor hom te waarsku, omdat hy leuens versprei. Koppiestraat vra nie vir geld nie en inwoners mag nie bedel nie.”
• Leon het verlede jaar 11 Oktober, die Middelburg Observer genader vir hulp om van die straat af te kom.
Daar is gereël vir huisvesting by die Koppiestraat Behuisingsprojek wat met die goedheid van Louise en Johan Lee hulle deure vir hom oopgegooi het.
• Op 16 November is egter ’n opvolg oor Leon gepubliseer in ’n poging om vir hom werk te soek.
• Leon het egter daarna weer begin dwelms gebruik.
Lees ook:
