News

Nagtelike sluiper hou inwoners wakker

Inwoners van Impalastraat moet maar vandag vergewe word as hulle aan die slaap raak by die werk, omdat hulle sedert half een vanmore, ’n onwelkome besoeker by minstens twee huise in die straat opgemerk het.

Die man, geklee in ’n swart broek en blou oorpak baadjie, is kort na middernag deur ’n inwoner in haar erf opgemerk.
Die vrou sê ’n woeste geblaf het haar wakker gemaak waarna sy die sluiper gesien het.

Die boef het gevlug, maar is omstreeks 02:30 vanmore weer by ’n ander huis gewaar.

Die huiseienaar sê sy hond Diesel het wild tekere gegaan, waarna hy ondersoek ingestel en die man in sy erf gewaar het.
Hy het egter weer op die vlug geslaan.

Inwoners het hulle na die straat se WhatsApp-groep gewend om te kla omdat die hele straat se ligte nie werk nie, wat die area in stikdonkerte hul.
Die stadion aan die oorkant van die straat se laning huise, bied lank reeds goeie wegkruipplek vir kriminele.

Die Middelburg Observer het weke gelede berig oor ’n trokkaping wat tot ’n wilde skietgeveg langs die Klein Olifantsrivier gelei het, en waartydens ’n kaper gearresteer is.

Twee van sy makkers kon egter wegkom, met een wat by die stadion se swembad deur mnr. Arthur Hill en sy Dagpatrollielede gevind is, waar hy by die pomphuis weggekruip het.

Gesteelde goedere word ook gereeld in ooptes rondom die rivier en stadion versteek.

Daar is gedurende Dinsdagnag by ’n huis in Impalastraat ingebreek, terwyl daar ook inbrake in Lobelia- en Vygiestraat was.
By die Impalastraat eiendom is krane uit ’n leë huis gesteel, waar huurders onlangs uitgetrek het.

In die Lobelia- en Vygiestraat inbrake is platskerm televisietelle uit die huise gesteel.
In Lobeliastraat het ’n inbreker ook in die erf ontlas.

Impalastraat inwoners eis nou dat die munisipaliteit aandag aan die straatligte gee.

Kanonkop DA raadslid Helda de Klerk sê “die straatligte sal weer gerapporteer word, inwoners kan berus by die feit dat ek vir hulle baklei.”
Sy sê dat indien ’n hoëmas-lig op die regte plek opgerig word, die hele Impalastraat belig kan word, en dat sy die voorstel ook aan die munisipaliteit sal voorlê.

Lees ook:

Wees gewaarsku – daar is ’n nagsluiper

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button