News

Bejaarde wat vermoor is se roudiens Saterdag

Oom Izak Barrengé (81), die man wat Woensdagaand by sy huis in McDonaldstraat in Belfast vermoor is, se roudiens is Saterdag.

Die diens word om 11:00 uit die Belfast Hervormde Kerk gehou.

Saam met die roudienskennisgewing wat die familie uitgestuur het, het hulle die volgende boodskap geplaas: “There are some who bring a light so great to the world that even after they are gone, the light remains.”

• Oom Izak en sy vrou, Marietjie (81) is Woensdagaand in hul huis oorval deur twee jong mans.
Hy is aanmekaar oor die kop geslaan, terwyl die aanvallers gevra het vir die pinkode. Hy het in die kombuis in sy stoel gesterf.

Tannie Marietjie is met kopwonde na die Belfast Hospitaal geneem en later na Witbank Hospitaal afgevoer vir skanderings, sy is ook oor die kop geslaan.
Skanderings het gewys dat sy gelukkig nie bloeding op die brein het nie.

Oom Izak se kleinseun, Pieter Raaths, het vanoggend gesê dat sy ouma uit die hospitaal ontslaan is en by familie in Belfast tuisgaan.
Hy kan steeds nie glo sy grootouers is so wreedaardig aangeval nie.

Die egpaar was bedrewe jukskeispelers en Pieter sê sy ouma het vir hulle vertel dat hulle met die jukskei se skei aangerand is.
“Ons het die skei in die huis opgetel.”

Pieter sê dat dit nog al die jare baie veilig was in die area waar sy grootouers gebly het.
“Hulle het in die middel van die dorp, tussen twee kerke gebly. Agter hulle is dr. Hoesein se spreekkamers.”

Die egpaar se huis was tussen die twee Engelse kerke, die Anglikaanse Kerk op die hoek en die Methodiste Kerk aan die anderkant.

Die moordenaars het met die egpaar se Nissan Sentra weggekom en die voertuig is later in Fitzgeraldstraat gekry waar dit uitgesny het.

Hulle het gevlug met oom Izak se .22 geweer, juwele soos ringe van tannie Marietjie en bankkaarte. Pieter noem dat van die dokumente, soos hul ID’s in die kar gekry is.

Oom Izak was ook voorsitter van die Platorand Hengelklub totdat die klub ontbind het.

• Pieter het omgekrap vertel dat iemand gisteraand weer probeer inbreek het by sy grootouers se huis deur ’n buitedeur na die buitegeboue oop te skop.

Mense wat in die omgewing bly het alarm gemaak en ’n sekuriteitsfirma was blitsig by die perseel. Die booswig het egter oor die muur gespring en die nag in verdwyn.
Hy weet nie of die persoon wat in die erf was, positief verbind kan word met die aanval net ’n paar dae tevore nie.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/10/12/familie-in-rou-na-wrede-en-sinnelose-moord-op-geliefde-inwoner/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button