News

Familie in rou na wrede en sinnelose moord op geliefde inwoner

Die Berrangé-familie het vanmiddag in skok en afgryse mekaar ondersteun na die aanval en moord op die bejaarde mnr. Izak Berrangé (81) by hul huis in McDonaldstraat in Belfast.

Sy vrou, Marietjie (81), is met ernstige kopwonde na die Belfast Hospitaal afgevoer en later vanmiddag na die Witbank Hospitaal geneem om skanderings van haar beserings te doen.

Nadat hul kleinseun, Sarel, op die Belfast Noodgroep gevra het dat die polisie en ’n ambulans na die huis gestuur word, het die gemeenskap van die skokkende gebeure gehoor.

Sarel het vanoggend ’n gestamp vanaf sy grootouers se huis gehoor en gaan ondersoek instel, waar hy op die toneel afgekom het.

Oom Izak het nog in die stoel gesit waar die aanvallers hom vasgebind en dood geslaan het. Nadat hulle hom vermoor het, is ’n kombers oor hom gegooi.
Tannie Marietjie se hande was vasgemaak met die medaljes wat sy en haar man verower het as bedrewe jukskeispelers.

Sy het later op die toneel gesê dat dit twee jong mans was wat hulle aangeval het.

Die moordenaars het hul bankkaarte gevat en het die hele tyd vir oom Izak gevra wat die pinkodes is. Elke keer as hulle gevra en hy dit nie wou gee nie, het hulle hom gewelddadig aangerand, waarna hy aan sy beserings gesterf het.

Die twee bejaardes is baie geliefd in Belfast.

Sarel se broer, Pieter, sê sy grootouers was baie bekend in dié dorp.

Oom Izak was tot met sy aftrede ’n bou-inspekteur by die Belfast munisipaliteit.

Pieter meld dat sy oupa boks afgerig het en ook aan die stuur van sake was by die Platorand Hengelklub.

“My oupa en ouma was ook ouderling en diaken in die Hervormde Kerk.”

Die egpaar, wat 61 jaar getroud was, word oorleef deur drie seuns, twee dogters, kleinkinders, agterkleinkinders en agter-agterkleinkinders.

  • Die aanvallers het oom Izak en tannie Marietjie se wit Nissan Sentra gevat, maar die voertuig het nie ver van hul huis af nie gaan staan, nadat die voertuig uitgesny het. Pieter het namens die familie gevra dat enige persoon wat moontlik die moordenaars gesien het toe hulle by die voertuig uitgespring het, om dadelik die Belfast Polisie te bel.
  • Tannie Marietjie verjaar op 23 Oktober en sal dan 81 jaar oud wees.

Lees ook:

Moordenaars van bejaarde was jong mans

Bejaarde man dood in aanval

Bejaarde egpaar aangeval

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button