X-strale wys seun wat van fiets af gery is, se enkel is gebreek
X-strale wat by die Witbank Hospitaal geneem is, wys dat Willem Esterhuizen (24) se enkel voet gebreek is.
Willem is Woensdag (25 Oktober) van sy fiets af gery deur ’n rooi bakkie. Daar is na die ongeluk die aand X-strale by die Middelburg Hospitaal geneem van sy bobeen, waar sy spiere wat beseer is, erg gepyn het.
Nadat hy ontslaan is en hulle sy stewels by die huis uitgetrek het, het sy regtervoet en -enkel erg begin swel en het sy ma, Patricia Smit, hom al ’n paar keer weer terug geneem na die Witbank Hospitaal.
X-strale wat vanoggend geneem is, het gewys dat sy enkel gebreek is.
“Die dokter het gesê hy moet nou ses weke in gips wees. As die been en spiere egter nie reg is na ses weke nie, gaan hulle hom moet opereer.”

Willem is Woensdag omstreeks 17:20 op die hoek van Verdoorn- en Vosstraat deur ’n rooi bakkie raakgery.
Die bestuurder van die bakkie, ’n vrou, het gestop en haar seun, wat skoolklere gedra het, het Willem se fiets opgetel en vir hom gegee. Die seun het ook die buffer van die bakkie opgelaai en agterop gegooi.
Hulle het hulself nie geïdentifiseer nie en ook nie gewag dat daar hulp vir Willem opdaag nie.
Me. Smit meld dat die polisie Saterdag weer by hulle was en gesê het dat hulle nou ’n tref-en-trap saak ondersoek.
“Sy het 24 uur gehad om die saak aan te meld en haarself oor te gee, maar sy het nie en sal sy nou vervolg word as hulle haar opspoor.”
Willem, wat doof en verstandelik gestremd is, pas sedert verlede jaar karre op om die pot aan die kook te hou in die huis.
Hy het aangebied om sy ma te help, nadat haar verloofde verlede jaar oorlede is.
“Hy help dat ons krag en kos kan koop. Noudat hy nie kan werk nie, weet ek nie hoe ons alles gaan bybring nie. Ek moet ook elke keer by die werk afvat om hom Witbank Hospitaal toe te neem.”
Sy gaan ’n siviele aksie teen die vrou begin vir mediese kostes en vir die verlies van Willem se inkomste.
• Patricia wil graag vir Wimpie van Zyl (wat lid is van die Noodroep Radiogroep Sektor 3) bedank wat hulle sedert Willem se ongeluk ondersteun en hulle hospitaal toe neem. “Hy was die aand van die ongeluk tot middernag saam met ons by die Middelburg Hospitaal.”

Sy bedank ook die ander lede van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 en die gemeenskap vir hul ondersteuning.
Lees ook:
