Gesteelde Fortuners word waarskynlik na Zimbabwe gesmokkel
Word Toyota Fortuners wat op groot skaal in Suid-Afrika gesteel word na Zimbabwe gesmokkel?

’n Man is gearresteer nadat die polisie inligting opgevolg het oor ’n gesteelde voertuig wat op pad was om uit die land gesmokkel te word.
Voorlopige inligting toon dat die verdagte verlede jaar in Marble Hall in hegtenis geneem is, waar hy vermoedelik ’n Toyota Fortuner na Zimbabwe wou smokkel.
Die 35-jarige man is Dinsdag, 31 Oktober, weer in die Mokopane polisiëringsgebied gearresteer deur lede van die provinsiale opsporingspan in samewerking met privaat sekuriteits- en ondersoek maatskappye.
Lebowakgomo se misdaadintelligensie-eenheid het inligting ontvang oor ’n gesteelde silwer/grys Toyota Fortuner wat op Woensdag, 25 Oktober, in Benoni gesteel is.
Volgens brig. Hlulani Mashaba, provinsiale polisiewoordvoerder, het die verdagte voertuig langs die N1 vanaf Johannesburg na Beitbrug-grenspos gery en ’n intelligensie-gedrewe operasie is uitgevoer om die voertuig op te spoor.
Die Toyota Fortuner wat by die beskrywing pas, is opgemerk en gedwing om by die Nyl Plaza-tolhek te stop.
“’n Suid-Afrikaanse burger van Springs is gearresteer vir die besit van ’n gesteelde motorvoertuig. Ons voorlopige ondersoek het ook aan die lig gebring dat die verdagte verlede jaar in Marble Hall gearresteer is met die doel om ’n Toyota Fortuner na Zimbabwe te smokel. Die saak is in die hof teruggetrek. Daar word ook beweer dat hy verlede week daarin geslaag het om ’n Toyota Fortuner deur die Beitbrug-grenspos na Zimbabwe te smokkel,” sê brig. Mashaba.
Inligting dui daarop dat die verdagte bande het met ’n bekende verdagte wat gedurende September in hegtenis geneem is in besit van ’n Toyota Hilux, terwyl hy ook probeer het om dit na Zimbabwe te smokkel. Hierdie verdagte het op Woensdag, 1 November, in Mokopane-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ’n gesteelde motorvoertuig.
Die verdagte wat verlede Dinsdag gearresteer is, het ook in die Mokopane-landdroshof verskyn vir die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig.
Fortuners word ook al ’n geruime tyd in Middelburg gesteel.
• CCTV-beeldmateriaal van twee onlangse diefstalle toon dat die selfde verdagtes en wegkom voertuie in twee plaaslike diefstalle betrokke was.
Mnr Frik Buitendach se silwer Fortuner Facelift is helder oordag in Walter Sisulustraat gesteel terwyl hy ’n oogspesialis besoek het.
Die voorval het om 12:00, op 10 Oktober plaasgevind.
Beeldmateriaal wat deur Mica bekom is het gewys dat die groep verdagtes die opsporingstelsel minute later in De Villierstraat ontkoppel het.
• ’n Dag later is die silwer Fortuner van dr Ashlynne Brown in die Dros-parkeerarea gesteel terwyl sy en haar gesin gaan uiteet het.
Die Middelburg Kamer van Koophandel kon op beeldmateriaal sien hoe die verdagtes met ’n kettie die voertuig se ruit stukkend skiet. Die diewe het daarna, deur die gebruik van ’n tablet, die opsporingstelsel omseil.
In beide gevalle is ’n silwer Toyota Cross en ’n wit Nissan NP200 as wegkom voertuie deur die motordiewe gebruik.
In dr Brown se geval, is haar Fortuner deur kameras in die Delmas omgewing opgetel.
Lees ook: