News

Willem Kruger: ‘daar is ’n gat in ons harte wat nooit weer gevul kan word nie’

’n Gesin het ’n gat van verlange in hul harte.

’n Gat wat ’n jaar gelede oopgemaak is toe Willem Kruger op 13 November vanaf die Henbase Lodge langs die Vaalrivier verdwyn het.

Op 22 November 2022 is sy bakkie en oorskot in die rivier gekry nadat die polisie en letterlik honderde mense vir dae aaneen na hom gesoek het.

Die oomblik toe duikers Willem se bakkie in die Vaalrivier gekry het.

Sy suster, Melissa, het vanoggend op Facebook ’n foto gelaas van ’n plaatjie wat die gesin laat maak het.

Die eenvoudige woorde met die seer betekenis raak ’n mens:

“My Ysterperd, jy het ons lewe vol gemaak met liefde en eerlikheid. Rus in vrede tot ons mekaar weer eendag sien.”

Haar woorde saam by die plaatjie, verwoord elkeen van sy naastes se pyn.

Die plaatjie wat Willem Kruger se suster, Melissa, met ’n besondere boodskap daarby vanoggend op Facebook geplaas het.

“@willem_kruger ons kon nooit afskeid neem of tot siens gesê het nie. Jy was weg voor ons dit geweet het, en net God die Almagtige Vader, weet hoekom.

’n Miljoen keer sal ons jou mis. ’n Miljoen keer sal ons huil. As liefde alleen jou kon red, sou jy nooit gesterf het nie.
Daar is ’n gat in ons harte wat nooit weer gevul kan word nie.

Dit het ons harte gebreek om jou te verloor, maar jy het nie alleen gegaan nie, want ’n deel van ons het saam met jou gegaan, die dag toe God jou huis toe geneem het.

Ons is oneindig baie lief vir jou.”

• Willem se verdwyning het die hele land geruk en die polisie en later ook Afriforum se privaatvervolgenseenheid het in ’n verklaring gesê dat “geen gemene spel gelei het tot Willem se dood nie.”

Willem se bakkie nadat die voertuig uit die Vaalrivier gesleep is op 22 November 2022.

Nadat sy familie die verklaring van Afriforum gekry het, het sy pa, Tian, net gesê dat “Willem hom op ’n manier gedra het wat nie kenmerkend is van sy karakter nie.”

• Op 16 Junie hierdie jaar is ’n gebedsbyeenkoms geadverteer met die tema: “Bid vir Willem Kruger-saak” wat op die “Geregtigheid vir Willem”-Facebookgroep geadverteer is.

Daar is gesê dat die byeenkoms gehou word by die Boer Kombuis, in Moreletta Park “om te bid vir antwoorde, waarheid, geregtigheid en berusting.”

Die uitnodiging het ook gevra dat as persone nie die geleentheid kan bywoon nie, dat hulle aangemoedig word om saam te bid en deel te neem aan die byeenkoms.

• Die administrateur van die “Geregtigheid vir Willem” Facebookblad, Corné Smith, het vanoggend op die blad gesê:

“ons wil graag ook van die geleentheid gebruik maak om te noem dat die Willem Kruger-saak nie afgesluit is nie. Alle nuwe inligting is konfidensieel en word doelbewus uit die publiek se oog gehou. Hierdie tipe ondersoek kan nog ’n ruk voortduur. Ons hoop is vir regverdigheid, en dat dit wat in die saak moet gebeur, nog sal gebeur.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button