News

Inbreker vier keer by besigheid in-en-uit met buit

Kort nadat die besigheid sekuriteit opgeskerp het, het die dief die magnetiese deur oopforseer en is vier keer by die winkel in en uit.

Daar is Vrydagoggend net na 03:00 by Balco Auto Coating in Weeberstraat ingebreek, reg langsaan die motorhandelaarskap Select Cars, waar ’n jongman voorverlede week ’n verkoopsman geklap, en ’n R199 999 bakkie gesteel het.

Die bakkie is dieselfde dag naby Mhluzi terug gevind waar die dief hom gelos het.

Volgens Balco takbestuurder, Charlene Jacobs, het die besigheid kort na die bakkie diefstal besluit om sekuriteit op te skerp.

“Na die bakkie diefstal het ek gedink ja-nee, silly season is hier, en ons franchise bestuur het besluit om ons voordeure te beveilig,” sê me. Jacobs.
’n Magnetiese deur is net verlede week geïnstalleer.

Dit het egter nie die boef gekeer om maklik toegang tot die winkel te verkry nie.

Op naburige besighede se CCTV-kameras is gesien hoe een man omstreeks 03:06 die magnetiese deur oopbreek en gemaklik deur die veiligheidshek klim.

Op die beeldmateriaal, wat reeds deur die polisie verkry is, kan daar ook gesien word hoe die man 15-minute in die winkel deurbring, waarna hy met twee swaar sakke uitstap.
Daarna kom hy drie maal terug, klim deur die hek en dra telkemaal meer buit weg.

Beeldmateriaal het ook gewys dat ’n wit en swart voertuig verskeie kere verby die besigheid ry ten tye van die inbraak.

“Ons vermoed dat die voertuig iewers vir die inbreker gewag het,” sê me. Jacobs.

Hoewel ’n alarm geaktiveer is, sê me. Jacobs dat die sekuriteitsmaatskappy hulle eers na 05:00 van die inbraak in kennis gestel het.
Dit is op die stadium nog onduidelik wat uit die besigheid gesteel is, naas rekenaars.

“Ons sal eers na die polisie se forensiese eenheid ondersoek ingestel het, ’n voorraadopname moet doen om te kyk wat vermis word, die hele winkel is vol voorraad,” sê me. Jacobs, wat na 11:00 nog vir die forensiese span buite die besigheid saam met haar kollegas gewag het.

Nuus van die inbraak het blitsig op plaaslike veiligheidsgroepe versprei.

Die besigheid het intussen by die Sektor 3 Noodroep Radiogroep aangesluit.

Balco het 12 takke regdeur die land.

Lees ook:

Boef klap karhandelaar, vlug met R199 999 bakkie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button