News

Bagasiebakmoord: Getuie glo reeds gedreig

Die drie beskuldigdes in die “bagasiebakmoord” het glo reeds ’n getuie gedreig en daarom moet hulle nie op borg vrygelaat word nie.

So het aanklaer Rehan Lourens betoog in die borgtogaansoek van Alex Grobler (beskuldigde een), Jan Jordaan (beskuldigde twee) en Angie Appelgryn (beskuldigde drie).

“Beskuldigde twee (Jordaan) het self ook getuig dat die persoon wat nog op vrye voet is, hom gedreig het. Hy is dus ’n vlugrisiko.”

Weens die ernstige aard van die moord en ook dat daar getuienis is dat daar later van die slagoffer se liggaam ontslae geraak is, wys vir hom hoe ernstig die misdryf is.

Danie Maritz (27) se verkoolde liggaam is in ’n uitgebrande voertuig langs ’n myn in Clewer gekry.
Adv. Petrus Ntuli het verskeie redes aangevoer waarom sy kliënte borg moet kry.

Alex Grobler (beskuldigde een).

Beskuldigde een (Grobler) en drie (Appelgryn) word vir onder andere regsverydeling en die vernietiging van ’n lyk aangekla.
Beskuldigde twee (Jordaan) staan tereg op moord.

Adv. Ntuli het gesê dat Jordaan en Grobler aangerand is om bekentenisse te maak.
Hy het ook genoem dat Appelgryn gedwing en aangerand is om ’n leë dokument te teken.

Die polisie het hulle nie geleentheid gebied om sake van aanranding oop te maak nie en daar is tot vandag nie enige klagtes teen die polisie geopen nie. Hulle het ook nie mediese behandeling gekry nie.

Verder is gesê dat Grobler en Appelgryn nie Vrydag hof toe gevat is nadat hulle verlede Donderdag gearresteer is nie.
Die rede daarvoor was dat Grobler se oog nog erg geswel was weens die polisie se beweerde aanranding op hom (Grobler het daaroor getuig).

Adv. Ntuli het gesê dat hul beserings al verlede Maandag aan die hof gewys is.
Hy het hom sterk uitgespreek oor die getuienis van sers. Osia Banze (ondersoekbeampte) wat onder andere gesê het dat sy kliënte “harteloos” is.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/11/23/lyk-in-bagasiebak-beskuldigdes-is-harteloos-en-gevaarlik/

Hy het gesê dat sers. Banze nie geweet het van die aanranding op die drie beskuldigdes nie en dat hy “glad nie ’n goeie getuie of ondersoekbeampte is nie.”
Volgens hom is sers. Banze nie ’n onafhanklike ondersoekbeampte nie, omdat hy sulke persoonlike uitlatings gemaak het.

Hy het dit uitgelig dat sers. Banze inligting, wat eintlik eers in die verhoor moes uitgekom het, al in die borgaansoek bekend gemaak het.
Die getuienis was ontstellend vir die families van beide die oorledene en beskuldigdes.

Hy het gemeld dat sers. Banze hulle reeds skuldig bevind het en uitsprake gemaak het net uit inligting wat hy in die dossier gelees het. Hy het eers op 21 November die dossier van die Vosman Polisie af gekry.

“Hy het ook nie eers geweet die beskuldigdes is aangerand nie!”

Jan (Sparky) Jordaan (beskuldigde twee).

“Terwyl sers. Banze die ondersoekbeampte is sal hulle nie ’n regverdige ondersoek kan verwag nie. Dit is wet, dat die verklarings en ondersoek onafhanklik, regverdig en eerlik deur die ondersoekbeampte gedoen moet word.”

• “As daar gekyk word na die bewyse, wys dit dat daar reeds met die ondersoek ingemeng is. Daar is nie omgegee om ’n voertuig te brand met ’n persoon se liggaam daarin nie, wat sal hulle stop om met die getuie in te meng?” het aanklaer Lourens betoog.

Hy het verskil van adv. Ntuli se uitlating dat sers. Banze nie ’n goeie getuie is nie. Ook dat dit onregverdig is om hom verantwoordelik te hou vir die feit dat hy nie geweet het van die beweerde aanranding op die beskuldigdes nie, omdat hy eers ’n dag na hul eerste verskyning die dossier gekry het.

“Ek is van mening dat ons ’n sterk saak het en dat die beskuldigdes in aanhouding moet bly.”

• Daar sal vandag voortgegaan word met die betoë by die formele borgaansoekverrigtinge.

Angelique (Angie) Appelgryn (beskuldigde drie).

Back to top button